Op die presidensiële imbizo wat die naweek in Bloemfontein gehou is, het pres. Cyril Ramaphosa en sy ministers dit duidelik gemaak dat ingryping in die Vrystaat vir die regering ’n voorkeursaak is. Dié opmerking spruit uit die reuse-uitdagings waarmee die provinsie te kampe het.

Ons weet egter dat die regruk-optrede meer as net beloftes gaan verg.

Ramaphosa en sy afgevaardigdes het tydens hul besoek aan die provinsie honderde klagtes aangehoor. Klaers wat nie ’n spreekbeurt kon kry nie, moes hul klagtes op papier neerpen.

’n WhatsApp-nommer is ook beskikbaar gestel, waarheen klagtes gestuur kan word.

Munisipaliteite wat reggeruk moet word, miljoene vir die herstel van gehawende paaie en die vermorsing van water, asook die rioolkwessie, is van die uitdagings wat ter tafel gelê is. Verskeie voorstelle deur die onderskeie ministers, met moontlike oplossings vir voortslepende probleme, is aangehoor.

Almal wonder egter of die woord by die daad gevoeg gaan word en of een WhatsApp-lyn toereikend is vir die duisende klagtes.

’n Goeie voorbeeld van ’n belofte wat nie nagekom is nie, is herstelwerk aan die rioolaanleg in Kroonstad wat in opdrag van adj.pres. David Mabuza reeds verlede jaar voltooi moes wees. Ná die herstelwerk wat wel tot dusver gedoen is, is die aanleg steeds nie op peil nie.

Dit laat ’n mens kopkrap oor wat die dryfveer agter al die beloftes is. ’n Mens kan net hoop die regerende party sal hou by die beloftes in ’n provinsie waar die ANC reeds sy ondersteuners in die steek gelaat het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article