Karen du Plessis, die onderwyseres van Grey-kollege (primêr) wat die afgelope jare pal aan ‘n suurstofmasjien gekoppel was, het nuwe longe gekry.

Sy het Donderdag om 22:00 die oproep gekry waarop sy al van Januarie af wag – daar is vir haar longe en sy moes Vrydag voor 12:00 in Kaapstad wees vir die operasie.

Karen en haar suster Elenor van Heerden was gelukkig om op kort kennisgewing ‘n vlug Kaap toe te kon haal. Hulle het Vrydag reeds op die vliegtuig gesit toe die boodskap deurkom dat die weefsel van die skenker ooreenstem met dié van Karen.

Karen du Plessis voor die operasie
Karen du Plessis voor die operasie. FOTO: Facebook

Karen is reeds die afgelope paar jaar afhanklik van ‘n masjien wat haar help om asem te haal.

Sy is gebore met ‘n toestand genaamd primêre siliêre diskenese en haar longfunksie het teen verlede jaar so versleg, dat sy begin van die jaar op die orgaanontvangerslys geplaas is.

Op Kaapstad-lughawe aangekom het Karen vinnig nog kans gesien om video’s te maak om vir almal te bedank wat die afgelope tyd vir haar ondersteun het en bly bid het. “Ek sien so daarna uit om weer aan die parkrun deel te neem en om self met die honde te gaan stap, sê sy op een van die video’s.

“Ek bid vir die familie van die skenker wat iemand naby aan hulle verloor het. Dit is ‘n baie groot geskenk,” het sy Vrydag voor die operasie gesê.

Op Karen se Facebookblad New Lungs 4 Karen skryf Elenor: “Die longkliniek by Grootte Schuur se span dokters Greg Calligaro en Ashleigh Ryan sê ons moet besef hierdie is die grootste operasie wat daar gedoen kan word en dit bly totaal onnatuurlik vir mens se liggaam om ‘n vreemde orgaan te ontvang en te aanvaar.”

Elenor bevestig dat dit goed gegaan het met die operasie en die lang pad van herstel nou voorlê.

  • Augustus is Nasionale Orgaanskenkersmaand en in die maand word die publiek aangemoedig om orgaanskenkers te word en hulself vertroud te maak met wat dit behels.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article