Die Kroonstad-gemeenskap kan uitsien na ’n splinternuwe kleuterskool met ’n baie interessante aanslag, genaamd die Sonstraaltjie Stimulasie Sentrum. Dié nuwe kleuterskool beloof om die kleinspan op ’n holistiese en praktiese manier op te voed.
Van Januarie 2024 af sal die Sonstraaltjie Stimulasie Sentrum, vanuit Peckstraat 41, Kroonheuwel, Kroonstad bedryf word.
Die kleuterskool is die lewenslange droom van eienaar Geandré Botha (23), ’n gebore en getoë Kroonstadter. Botha sê dat sy nooit gedink het dat sy haar drome om ’n akteur in die sepie 7de Laan te wees, sou verruil vir ’n roeping as kleuterskoolonderwyseres nie.
“Op 17-jarige ouderdom het die Here aan my openbaar dat my beroep tussen klein mensies sal wees. Voor dit het ek gedink my verhoog sou in ’n sepie wees, nie ’n klaskamer nie. Tog het die lewe sy eie intriges en kinkels.”
Reeds op skool het God aan haar ’n visie gegee wat daarop dui dat sy met klein kindertjies sou werk. Daarom het sy toe ná skool ingespring om by ’n kleuterskool in die Bronkhorstspruit-omgewing te werk.
“Ek was dadelik verlief op die kleuterskool-chaos en dit het net weer my roeping bevestig.”
Botha beskou die tyd wat sy by die kleuterskool deurgebring het as haar leerskool omdat sy so baie van die bedryf daar geleer het.
“God het in daardie tyd vir my gefluister: ‘Jy sal jou eie kleuterskool oopmaak, jy is net in Bronkhorstspruit om te leer.’ ”
Vanjaar het sy die tekens ontvang dat die tyd reg is om haar eie kleuterskool op die been te bring.
“In ’n oomblik van stiltetyd het die Here aan my ’n formule uit my nie-so-gunsteling vak, fisiese wetenskap, openbaar: E=mc² en opgebreek soos volg: Energie (E) is die Heilige Gees wat in ons woon; materie (m) is die skool se fisieke gebou; en ‘c’ is die spoed van lig.
“Verbysterd het ek vir God gevra: ‘Ek het ‘E’; ek het ‘m’; wat is ‘c’ ?’ en sy antwoord aan my was: ‘Dit is hoekom Ek aan jou die skoolnaam Sonstraaltjie gegee het.’ “
Hierdie formule is haar daaglikse mantra en bestaan.
Sy sê “E” is die Heilige Gees in ons, “m” is ons vlees, en “c” is God se lig. Sodra ons plek maak vir die Heilige Gees, en ons liggaam dit verwelkom, kan God se lig deur ons skyn.
“Ons kan immers nie God se lig uitstraal sonder om plek te maak vir die Heilige Gees nie. Hierdie formule moet ons as Christene elke dag toepas.”
Sy besef dat sy ’n groot verantwoordelikheid op ’n baie jong ouderdom aanpak, maar glo ook dat sy krag van bo sal ontvang, en sy is baie opgewonde oor die pad vorentoe en wat die toekoms inhou.
Die Sonstraaltjie Stimulasie Sentrum se missie is om gesondheid, optimisme, fisieke welstand en gehalte-onderrig by kinders te bevorder.
Dit alles terwyl hulle die skoonheid van die natuur geniet.
Die kleuterskool is daartoe verbind om groente en vrugte aan te plant en eenvoudige spel, soos om vreugdevol in die modder te speel, te omhels.
Die strewe is om plastiek en sintetiese materiale sover moontlik te vermy, wat betref alles van speel tot eet, tot voordeel van die kind.
Die visie is om Christelike morele standaarde by kinders te vestig en handhaaf, om hulle as gedissiplineerde, opgevoede, selfversekerde, onafhanklike, sterk en gesonde individue te vorm.
Die strewe is ook om hulself, ander en die omgewing met respek en waardigheid te behandel en die lewe met ’n lewenslustige en liefdevolle gees aan te gryp.
“As die wind jou ooit deur Kroonstad waai, kom maak gerus ’n draai!
“Ons is die skool met die vrolike geel dak, waar die son nooit sak.”




