Dit waarin jy glo, bepaal jou lewe. Om ’n goeie lewe te hê, is om te glo in daardie dinge wat die lewe goed maak.
Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie vir een oomblik te twyfel nie en te glo dat Hy sy beloftes sal hou – en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur, aldus Hebreërs 11:1.
Hierdie beskrywing ontken al die definisies van die wêreld wat gegrond is op sien is glo. Geloof is nie slegs positiewe denke nie. Ook nie die oortuiging dat alles op die een of ander manier sal uitwerk nie. Ware geloof is ver van die gedagte dat ons drome waar sal word as ons net in daardie rigting werk.
Bybelse geloof is ’n vaste sekerheid in die Woord van God – al is dit nog nie ontvang nie. Sien is nie glo nie. Nie-sien-nie, is geloof. Ware geloof vertrou op iemand en nie statistieke of toekomsberekeninge nie. Daardie iemand wat bestuur waarheen alles gaan.
Baie van ons begeer om in geloof te leef en groei. Ons weet hierdie geloof sal mooi lewe bring.
Dit ís moontlik om hierdie soort lewe te vind – wanneer gelowiges se sentrum van besluitneming nie dinge is wat hulle kan sien of aanraak nie, maar wanneer hulle hul lewe grond op die onsienlike God en sy beloftes soos in die Woord opgeteken. Dan vind ons vrede, sekerheid en sukses in daardie iemand wat ook my lewe se uiteinde bepaal.
Gebed
Here Jesus, laat Bybelse geloof my lewensinhoud bepaal en help my daarin groei. Amen.
- Els was voorheen oudleraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.

