Heilbron-inwoners soek antwoorde ná lisensie kantoor al vyf jaar gesluit is

Inwoners van Heilbron in die Vrystaat is ontstoke oor die jarelange sluit van die dorp se lisensiekantoor wat hulle verplig om by naburige dorpe hul lisensies uit te neem.
Inwoners van Heilbron in die Vrystaat is ontstoke oor die jarelange sluit van die dorp se lisensiekantoor wat hulle verplig om by naburige dorpe hul lisensies uit te neem.

Inwoners van Heilbron in die Vrystaat is ontstoke oor die jarelange sluiting van die dorp se lisensie kantoor wat hulle verplig om in naburige dorpe rybewyse uit te neem en te hernu.

AfriForum se Heilbron-tak doen ’n dringende beroep op die Ngwathe-munisipaliteit om duidelikheid te verskaf oor die lisensie kantoor in Heilbron se sluiting. Die kantoor se dienste is vir die afgelope vyf jaar gestaak nadat die rekenaartoerusting by die kantore gesteel is.  

Sedertdien kon inwoners geen rybewys, leerling- of voertuiglisensies in Heilbron uitneem nie. Dit dwing inwoners en sakeondernemings om na ander dorpe te reis vir die dienste. Volgens die organisasie het dit  ‘n groot koste implikasie vir die gemeenskap.

“Ondernemings met ’n vloot voertuie moet byvoorbeeld al die voertuie na ander dorpe neem om die voertuie deur die toets te kry, wat nie net tydrowend is nie, maar ook finansieel groot druk op sakeondernemings plaas,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek.

Pretorius sê voorts dat hierdie situasie nie net ’n negatiewe uitwerking op inwoners nie, maar ook lei tot ’n aansienlike verlies van inkomste vir die Ngwathe-munisipaliteit aangesien lisensie-geld elders betaal word.

Die organisasie sê volgens gerugte is die gesteelde rekenaars reeds vervang. Dit laat hulle met die vraag of die personeel wat vir die werk aangestel is steeds betaling ontvang sonder om hul pligte na te kom.

Volgens AfriForum is dit net nog ’n voorbeeld van die swak diens wat die Ngwathe-munisipaliteit lewer.

“Wat die saak vererger, is dat dit duidelik nie hul doel is om die gemeenskap te dien nie, maar ook dat ’n geleentheid om ’n inkomste te verdien, bloot nie aangegryp word nie,” voeg Pretorius by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article