Ná die versengende hitte wat die Vrystaat die afgelope paar maande ondervind het, kom verras die ou winter ons met ’n effense skok, om net weer vinnig te verdwyn.
Die gevolg was natuurlik dat tuiniers gewonder het wat staan hul nou te doen met die herfs en winter wat voorlê? Watter kruie gaan die winter oorleef en watter take is nou nodig?
Die goeie nuus is dat die meeste tradisionele kruie soos tiemie, roosmaryn, pietersielie en oreganum bestand is teen die ys-vingers van die winter.
Herfs is die tyd om kruie te oes en te stoor. Oes die somer kruie wat nou saad skiet en die laaste gesonde blare en vrugte wat gepluk kan word. Gewilde somer kruie kan ook wonderlike smaak aan die winter se trooskos gee.
Gebruik die blare asook die blomme van basiliekruid en verwerk dit gerus om deur die winter daarvan nut te hê.
Fyngekapte basiliekruid gemeng met ’n goeie skoot olyfolie en ’n knippie sout kan gebêre word deur dit in ysbakkies in porsies te vries vir latere gebruik.
Vir ’n slaaisous wat tot agt weke baie goed in yskas hou: meng een koppie vol basiliekruid blomme, saadjies en blare wat afgestroop word van die takkies met een suurlemoen se sap, ’n halwe koppie balsamiese asyn, een koppie olyfolie en sout en peper na smaak. Roer goed en bêre hierdie heerlike grenadella-smaak slaaisous in die yskas.
Wanneer vleisgeregte voorberei word, dink aan die onwillekeurig en bekende Afrikaanse spreekwoord: Vinkel en koljander, die een is soos die ander – want in my kombuis is hulle van die beste pasmaats ooit saam met vleis. Oes nou jou vinkel en koljandersaad, want hierdie twee is onafskeidbaar deel van ons Suid-Afrikaanse kookkuns en om nie eens te praat van ons eie biltong-kultuur nie.
Maak seker dat die saad goed gedroog is voordat jy dit in lugdigte houers stoor. Neem elke keer net genoeg van die saad soos wat die resep benodig, skroei dit dan liggies in ’n pan voordat dit gemaal word. Maak van ’n koffiemeul gebruik om die sade maklik en gou te maal tot jou eie smaak en tekstuur.
Tiemie, roosmaryn, oreganum en die kruisement-familie kan ook maklike gedroog word vir latere gebruik. Pietersielie, seldery, wynruit, lourierblare, grasuie en wilde-als is van ons immergroen kruie wat ook in die winter gepluk kan word.
’n Goeie wenk is wel om datums aan te bring op al die houers, om so te bepaal wat die varsste kruie in die spens is. Geniet die oestyd en deel gerus jou gedroogte kruie as geskenke met vriende en familie.





