Huldeblyke stroom in nadat dit bekend geword het dat Tharine Hurter (52), voormalige redakteur van Kroonnuus, (nou VrystaatKroon) in die oggendure van Donderdag 22 Junie oorlede is.
VrystaatKroon het deur die loop van die oggend talle telefoonoproepe uit die gemeenskap ontvang van geskokte vriende en kennisse wat dié nuus wou bevestig.
Hurter van Kroonstad, wat 14 jaar lank Kroonnuus as verslaggewer en redakteur behartig het, was in ’n kritieke toestand in ’n Bloemfonteinse hospitaal nadat sy Dinsdag ’n nood-hartomleiding ondergaan het ná drie hartaanvalle in minder as ‘n week.
Sy het verlede Donderdagaand ’n hartaanval gekry en die tweede een Sondagmiddag terwyl sy in die ongevalle-afdeling van die Netcare Kroon-hospitaal was.
Sy is daarna na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein se hoësorgeenheid oorgeplaas.
Hurter het Maandag in ’n plasing op die sosiale media geskryf sy het Sondagmiddag gedink sy is “Bokveld toe”.
“ ’n Aanhoudende pyn op my borskas wat kort-kort verplaas na die vlerkies van jou blad, dan prikkel die linkerhand se vingers. Jy word naar. Ek kommandeer vir Disprins by Jacques, maar dis vergete. Ek gaan bad, trek sommer iets aan en ry ongevalle toe. My huisdokter, dr. Celia Coetzer, is aan diens.”
Hurter se voorgevoel het vir haar gesê dit is hartmoeilikheid, wat dit toe wel was.
“Die bloedtoetse het dit bevestig: twee hartaanvalle. Een ou een en een nuwe een. Die pyn is ondraaglik. Ek skryf môre verder.”
Maandag het sy ‘n derde, groter, hartaanval gehad.
Kotie, haar ma, sê Hurter het Dinsdagoggend om 06:45 haar seun, Jacques, gebel en gesê dat Kotie en Jacques Bloemfontein toe moet gaan.
“Die dokter moes ’n noodoperasie en ’n hartomleiding doen.”
Volgens haar ma, Kotie, was sy Woensdag nog onder verdowing. Met besoektyd die oggend het sy ’n koors van 40 °C gehad en was sy “neurologies nog nie by nie”.
“Daar was infeksie wat die koors beïnvloed het.”
Hurter is egter Donderdag vroeg oorlede.
Talle huldeblyke is op Facebook geplaas ná Hurter se afsterwe.
“Altyd Vriendelik en Goeie Hart van Goud, innige meegevoel en simpatie aan alle geliefdes.” het André Lubbe op Facebook geskryf.
Sulensa Vermeulen skryf: “Mag jou lig nou vry skyn vriendin. Die siel kan nooit vergaan, dankie vir jou waarde in ons lewe! Your memory will live forever.”
Hurter word benewens haar ma deur haar broer, PG Hurter, en haar kinders Kaitlin Hurter en Jacques Geldenhuys oorleef.





