Elke geleentheid vir 2026 kry sy tyd met kalendervergadering in Bethlehem

Belanghebbendes op die vergadering in Bethlehem om volgende jaar se gemeenskapskalender te beplan.
Belanghebbendes op die vergadering in Bethlehem om volgende jaar se gemeenskapskalender te beplan is van links Gustav Dreyer (Hoërskool Witteberg), ds. Stephan Swart (NG Kerk Efrata Bethlehem), Mientjie van der Walt (Paul Roux), ds. Dougie Bubb (NG kerk Efrata Sondag) en Alta Smit (NG kerk Bethlehem-Oos). FOTO: Coleen Cilliers

‘n Gemeenskapskalender-vergadering is in Bethlehem gehou, wat deur verskeie belanghebbendes bygewoon is om die kalender vir die komende jaar saam te stel. Dit sal deur die onderskeie mediahuise, op die sosiale media en ook deur die plaaslike radiostasie gedeel word.

Alta Herbst, skriba van die NG kerk Bethlehem Panorama sê ds. Gideon Lamprecht van die kerk het ongeveer vier jaar gelede met dié gebruik vorendag gekom.

“Die idee is om geleenthede wat plaasvind, eweredig oor die jaar te versprei, sodat meer as een geleentheid op ‘n bepaalde datum tot die minimum beperk word,” sê Herbst.

Op 29 Oktober is die vergadering deur Lamprecht gelei, om die datums van al die geleenthede vir die komende jaar te bespreek en vas te stel.

“Ons wil graag almal ‘n regverdige kans bied om hul geleentheid suksesvol aan te bied, sodat hulle maksimale ondersteuning uit die gemeenskap kan kry. Die datums is eweredig oor die 12 maande van die jaar versprei,” verduidelik Lamprecht.

VrystaatKroon sal die gemeenskapskalender in sy dagboek in die gedrukte koerant, asook op die sosiale media deel.

Om datums van geleenthede op die gemeenskapskalender aan te teken, stuur ‘n e-pos aan Herbst by ngkpanoramabhm@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article