Die hoë premie wat op die menswaardigheid van elke leerling aan die Hoërskool Adamantia in Kimberley geplaas word, dra by tot die sukses wat leerlinge tydens hul skooljare, en ook jong mense as oudleerlinge, behaal.
By dié mediumgrootte skool tel elke individu, en geeneen verdwyn in die massa nie.
Adamantia se prestige-eerbewys, ’n wit baadjie, is alombekend om uitmuntende prestasie aan te toon. Die baadjie word aan leerlinge en oudleerlinge oorhandig.
Ervare onderwysers onderrig leerlinge in verskeie vakkeuses; en die skool is bekend vir sy hotelskool, wat opleiding vir gasvryheidstudie-leerlinge aanbied.
Dié opleiding, waarin skeppendheid seëvier, is ’n eerste tree na ’n beroepswêreld met talle werksgeleenthede.
Hier ontvang leerlinge ook opleiding in die verskillende bedienstyle wat deur kelners in restaurante gebruik word.
Ook kan leerlinge wat gekeur word, kuns as ’n skoolvak neem.
Boonop presteer leerlinge nie net in tradisionele skoolsportsoorte soos atletiek, rugby, hokkie, krieket, tennis en netbal nie, maar ook in rolbal, skopboks, fietsry, perdry, toutrek, dans, korfbal en jukskei.
Adamantia bied karate as skoolsport aan, en leerlinge kry die geleentheid om tot op die hoogste vlak te gradeer.
Leerlinge kan hulle ook by die skaakgroep aansluit.
Die D.S. Jacobs-Landsdiensklub is al dekades aaneenlopend as die aktiefste klub in die Noord-Kaap aangewys, en die skool se leuse, “Werk en dien”, word ten volle uitgeleef.
Sêr, VCSV, toneel, debat en redenaars is enkele van die bedrywighede op kultuurfront.
Op sosiale front is die Plaaswerf-ete, wat gewoonlik in Oktober plaasvind, een van die hoogtepunte op die kalender.
Elkeen wat by Adamantia betrokke is, weet: Dit is ’n Afrikaanse Christen-skool wat op leerlinge se toekoms ingestel is.
Hier word gelukkige jong mense ontwikkel.





