Die egpaar Janie en Johan Lourens met Janie se verjaardag op 14 November 2021. Die egpaar is verlede week enkele dae na mekaar oorlede. Foto: verskaf

Credit: SYSTEM

’n Gesamentlike diens is vir ’n geliefde egpaar van Kroonstad gehou nadat dié twee oudonderwysers vyf dae ná mekaar gesterf het.

Johan (81) en Janie (82) Lourens se geliefdes het Woensdag, 29 November in die Suikerbosrand-aftreeoord in Heidelberg, Gauteng, van hulle afskeid geneem.

Die egpaar, wat op 21 Desember hul 60ste huweliksherdenking sou vier, het sedert Augustus 2021 in dié aftreeoord gebly.

Die oord is ook bekend as die Heidelberg Vereniging vir Bejaardes.

Marianne de Lange, een van hul dogters, sê albei haar ouers het met hul gesondheid gesukkel, haar ma oor ’n langer tydperk.

Haar ma se gedenkdiens is vir Maandag beplan nadat sy verlede Dinsdag in hul kamer in die aftreeoord se versorgingseenheid gesterf het.

Janie is presies ’n week ná haar 82ste verjaardag oorlede.

Johan, wat in Mei volgende jaar 82 sou word, is twee dae ná haar dood in die Life Suikerbosrand-hospitaal opgeneem waar hy Sondag 26 November gesterf het.

Johan was vir baie jare ’n onderwyser aan die destydse Hoër Tegniese Skool (HTS) De Wet Nel in Kroonstad en Janie by die ou Kroonheuwel Primêre Skool.

“Hulle was twee mense met ongelooflike deursettingsvermoë en ’n passie vir die lewe. Hulle was nederige mense wat baie vir hul gemeenskap omgegee het,” sê De Lange, wat tussen die Paarl en Franschhoek woon.

Sy sê hulle was wonderlike ouers en het haar en haar suster, Amelia Champion van Pretoria, van die klein dingetjies in die lewe geleer en om nooit moed op te gee nie.

Haar pa was destyds saam met wyle Dawie Crowther mede-afrigter van die HTS De Wet Nel se eerste rugbyspan, waar hulle onder meer die voormalige Springbok-flank Gert Smal afgerig het, sê sy. Smal is ook ’n oud-hulpafrigter van die Springbokke en die Ierse rugbyspan.

“Hy (Johan) was ’n ou rugbylegende; hy het self ook op sy dag vir die Vrystaat se o. 21-span gespeel.”

Hy het volgens haar 11 keer aan die Comrades-ultramarathon deelgeneem, waarvan hy tien voltooi het.

Johan het in die elektriese veld onderrig.

Sy sê haar ma was ’n kranige wiskunde- en skeinatonderwyseres.

De Lange, ’n oudleerling van die eertydse Hoërskool Kroonstad, was in 1986 die wenner van die Matrieknooi van die Jaar-kompetisie, nou bekend as Volksblad en die Universiteit van die Vrystaat se Matrikulant van die Jaar-kompetisie.

Volgens De Lange het haar ouers sowat 53 jaar in Kroonstad gewoon, al die jare in dieselfde huis, voordat hulle na die aftreeoord verhuis het.

Hulle het aanvanklik in hul eie tweeslaapkamerhuis in die aftreeoord gewoon, maar in Augustus vanjaar na die versorgingseenheid geskuif. Hier was hulle saam in ’n kamer.

Janie is op 7 Julie vanjaar na die oord se versorgingseenheid oorgeplaas en twee dae later in die Life Suikerbosrand-hospitaal se waakeenheid opgeneem. Sy is op 9 Augustus ontslaan.

Johan is in daardie tyd ook twee keer gehospitaliseer.

Haar pa se gesondheid het geweldig begin verswak weens die skok oor sy vrou se verswakte toestand, sê sy.

Johan is in Augustus weens ’n senuwee wat in sy rug vasknyp, opgeneem en het op 11 Augustus by Janie in die versorgingseenheid ingetrek.

Sy sê Parkinson se siekte en prostaatkanker is vroeër vanjaar by hom gediagnoseer, maar dit is met medikasie in bedwang gehou. Hy het ook ’n prostaat-prosedure ondergaan.

Demensie het ook begin intree en die laaste ruk met rasse skrede vererger.

Volgens De Lange het haar ma se gesondheid reeds in 2019 begin verswak en was sy veral in 2021 baie siek nadat sy geval en ’n heupvervanging gehad het.

Haar gesondheid het wel mettertyd verbeter.

Sy sê haar pa het mooi na haar ma omgesien.

Die egpaar word ook deur hul skoonseuns, Nico de Lange en Peter Champion, vier kleinkinders en ’n agterkleinseun oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article