Een van drie verdagtes in Facebook-swendelaarsaak verskyn in hof

Morné Joubert (27) het op Vrydag 11 Julie in die landdroshof in Pretoria verskyn. Foto: Verskaf

Een van die verdagtes in die Facebook-swendelaarsaak wat in Kroonstad afgespeel het, het in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Die 27-jarige Morné Joubert is een van drie verdagtes wat op Donderdag 3 Julie deur die onderskeie owerhede van Kroonstad en die klaer in die saak, Pieta Lourens, in Kroonstad vasgetrek is. Joubert het op Vrydag 11 Julie in die hof verskyn.

Dit volg nadat Lourens (39), ‘n sakeman van Pretoria, op Facebook se marketplace deur Joubert ingeloop is.  

Joubert het ‘n chronograaf teen R 5500 adverteer wat Lourens by hom op Donderdag 26 Junie gekoop het.  Joubert het na bewering onder ‘n vals Facebook-profiel genaamd André Botes, sy onderduimse saketransaksies behartig.

Nadat Lourens die geld vir die chronograaf in ‘n Bidvest-bankrekening oorbetaal het, het die onderhandelinge begin skeef loop.  Ná allerlei slim slenterstories soos die Pudo-sluitkas van waar Joubert die pakkie aan Lourens sou stuur, wat nie mooi gesluit was nie, het Joubert die foon wat hy gebruik het afgeskakel.

Lourens het toe ‘n saak in Pretoria by die polisie geopen en het besluit om na Kroonstad te reis om self ondersoek in te stel.  Lourens het by die vulstasie waar die Pudo-sluitkaste geleë is gekontak om na die beeldmateriaal van die kringtelevisie te kyk. So kon hy meer inligting oor die verdagte bekom.

Met betroubare bronne in en om Kroonstad het die legkaart se stukkies vinnig in plek geval en is die verdagte asook sy broer en vrou by Presidenthof-wooneenhede in Kroonstad se middedorp aangekeer en in hegtenis geneem.

Linda Louwrens, reaksiehoof van die Vrystaatse National Crime Assist (NCA), sê die verdagtes is deur die Koonstad buurtwag en ‘n sterk polisie teenwoordigheid in hegtenis geneem.

“Die polisie is besig met ‘n volskaalse ondersoek vir bedrog, identiteitsbedrog en ander sake wat met die verdagtes verbind word.” 

Lourens sê dit was ‘n verligting om te weet dat hy Joubert in sy spore kon stuit en om te verhoed dat nog mense deur hom ingeloop word. Ná wat verneem word, word verskeie bedrogsake van oor die land heen teen die verdagtes ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article