Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. – Matteus 5:16

Die ou verhaal word vertel van die verlamde seuntjie wat feitlik heeldag by sy venster sit en uitkyk.

Een aand sien hy opnuut raak hoe ’n man die straatlampe voor sy venster aansteek.

In daardie stadium was daar nog nie elektrisiteit nie, so dit moes met die hand gedoen word. ’n Lap is in lampolie gedoop, aan die voorpunt van ’n lang stok vasgemaak en aan die brand gesteek om straatlampe aan te steek.

Toe sy verpleegster by die seuntjie kom, vra sy waarna hy so aandagtig kyk. Hy sê toe hy kyk hoe die man gate in die donker steek.

Volgelinge van die Here Jesus is geroep om hul lig in die donker wêreld te laat skyn; gate in die duisternis te steek.

Die lewe van vandag is baie donker. Soveel dinge wat van die duisternis se ryk deel is, gebeur elke dag.

Satan en al sy verleidings laat baie mense in donker putte val.

Ons het as Christene die taak om met ons goeie werke die lig van die Here sigbaar te maak en só gate in daardie donkerte van die lewe te steek.

Laat ander mense dan ook die lig van die Here deur jou lewe raaksien.

  • De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article