Hoe lui die gesegde? ’n Mens is nooit te oud om te droom nie.

Dit het die 83-jarige suster Marie Therese McLoughlin van die Notre Dame St. Peter-skool (NDSPS) in Kroonstad bewys.

Sy het vanjaar sommer twee groot drome op haar lysie afgemerk. Nie net het sy valskerm gespring nie, sy het ook haar droom verwesenlik om ’n groetetuin te vestig wat volhoubaar groente lewer waarmee behoeftige kinders gevoed kan word.

Sy het juis met die valskermsprong geld vir die groetetuin ingesamel.

In Julie, met die hulp van barmhartige samaritane in Kroonstad, is ’n stuk grond by die skool omgewerk om groente aan te plant.

Die trots en opgewondenheid van suster Marie laat ’n mens besef hoe ’n groot invloed ’n droom op jou lewe kan hê wanneer dit ’n werklikheid word.

Sy besef dat haar waagmoed en deursettingsvermoë uitkring en ’n positiewe effek op die gemeenskap het.

Die groentetuin is ’n bewys dat jy altyd aan jou drome moet vasklou, al voel dit hoe onwerklik, maar dat jy ook ’n bietjie waaghalsig moet wees om jou drome te verwesenlik. Moet dus nie huiwer om groot te droom nie, al neem dit tyd – en onthou, ouderdom is in elke geval net ’n getal.

Droom groot!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article