Inwoners van Kroonstad is raadop oor die voortslepende rioolkwessie, en ná talle onbeantwoorde skrywes aan die Moqhaka-munisipaliteit gaan die burgerregte-organisasie AfriForum nou regstappe doen.
Die munisipale bestuurder sal met hierdie stappe te kampe hê nadat riool reeds jare lank deur die strate vloei en geen daadwerklike stappe geneem word om dié situasie te beïndig nie.
“Die voortdurende versuim van die munisipaliteit om gehoor te gee aan ons versoeke om die rioolprobleme die hoof te bied plaas die gesondheid en veiligheid van Kroonstad se inwoners in gevaar,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek.
Gevolglik beplan die organisasie om strafregtelike klagte teen die munisipale bestuurder in te dien. Die klagte hou verband met versuim rakende nakoming van onder meer die Wet op Waterdienste en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.
Die organisasie het in September ’n formele skrywe aan die provinsiale regering gerig oor die haglike omstandighede waarin die inwoners van Kroonstad moet leef. Benewens die storting van onbehandelde riool in riviere, is woongebiede gereeld deur riool oorstroom weens die gebrekkige bestuur en instandhouding van rioolpompe en -aanlegte. Die onbehandelde riool beland in die Valsrivier en vloei tot in die Vaalrivier.
Die verstopping van riool-afvoerpype, wat die infrastruktuur beskadig, veroorsaak dat riool in groot dele van Kroonstad by mangate uitstoot. Wanneer die riool in die dorp vloei, beland dit in die stormwaternetwerk en eindelik ook in die rivier.
Ikking sê dit is veral skokkend dat die provinsiale regering nog geen terugvoering oor die aangeleentheid gegee het nie.
Weens die dringendheid van die situasie doen AfriForum regstappe sodat die munisipaliteit verplig word om sy grondwetlike en statutêre verpligtinge na te kom.
VrystaatKroon het voorheen berig oor verskeie hofsake teen die Moqhaka-munisipaliteit weens die rioolkwessie in Kroonstad.
Ook dat die nuutgeboude rioolaanleg wat in 2016 ingewy is, die afgelope paar jaar nie in werkende toestand is nie.
Die aanleg is in 2021 opgeknap, in opdrag van voormalige adjunk-president David Mabuza. Die regering het R11 miljoen hiervoor beskikbaar gestel.
VrystaatKroon het Moqhaka gekontak om te verneem wie die munisipale bestuurder is, net om te hoor dat die munisipaliteit geen munisipale bestuurder het nie.





