Woede is ’n goeie diagnostiese hulpmiddel. Wanneer ons ontplof, is dit ’n duidelike teken dat iets verkeerd is, en woede verdien aandag. Woede hou daarvan om geprojekteer te word.
Dit is in ons aard om ander die skuld te gee. Adam sê dit is Eva, en Eva sê dit is die slang. Woede maak altyd asof dit iemand anders se skuld is.
Soms is ons woedend oor onreg, maar ek herinner myself aan ’n spreekwoord: “Some people are looking for a fight because they aren’t in one.”
Dikwels dui woede op ’n probleem binne jouself. Kyk na Jona. Hy weet wie en hoe God is. Nege keer gebruik Jona in die teks die woord “ek”. Hy is gefokus op homself en is woedend omdat God 120 000 mense red.
Dikwels het woede te doen met iets binne jouself wat moet sterf. In Jona se geval is dit wraak. Soms is dit só moeilik om te vergewe en om sekere mense lief te hê, dat ons woede ’n wurm raak wat ons binneste verteer.
Dit is nie hoe die lewe saam met God werk nie. As dinge anders verloop as wat ons wou hê, kan ons soos Jona onder ’n komkommerplant gaan sit; of aanvaar dat God met ons daardeur werk en dat Hy ons vorm – dat Hy ook dit gebruik tot eer van sy naam.
Gebed
Here, kom werk die woede in my lewe uit, sodat U naam daardeur geëer sal word. Amen.
- Müller is leraar aan die NG moedergemeente Kroonstad.

