Dit is met groot opgewondenheid dat DemZa die nuus met sy kliënte deel dat die Bethlehem-tak na ‘n nuwe perseel geskuif het. Dit is nou in ‘n goed geleë gebied, naby die Truida Kestell Laerskool, en die perseel bied meer as genoeg veilige parkeerplek vir kliënte.
“Dit is lekker om kliënte se reaksie te sien wanneer hulle die nuwe winkel besoek. Ons kan duidelik sien hulle is beïndruk en geniet elke oomblik,” sê Demaine van Wyk, eienaar en stigter van die gewilde familie-onderneming.
DemZa is ‘n unieke verskaffer van ‘n wye verskeidenheid: bakbestanddele en -toebehore, verpakkingsmateriale, skooltasse, skryfbehoeftes en uitstekende opvoedkundige speelgoed.
Die sakeonderneming is verseker enige bakster, partytjie-organiseerder of ouer wat na skryfbehoeftes of skooltasse op soek is, se droom.
DemZa het sy ontstaan in ‘n pakkamer in Sasolburg, in 1996. Van Wyk het die suksesvolle onderneming met slegs R3 000 begin.
In die pakkamer wat sy destyds gehuur het, was ‘n lessenaar, ‘n drukker wat sy gehuur het en aankope vir die onderneming − wat op ‘n hout-pallet kon pas.
Vinnig het die nuus versprei, en kliënte was gaande oor die groot verskeidenheid produkte wat DemZa hulle gebied het.
Verskeie navrae en voorstelle het tot die uitgebreide produktereeks wat vandag in die winkel te koop is, gelei.
Liesl Geldenhuys en Deidré van Deventer, Demaine se twee dogters, het intussen die leisels by hul ma oorgeneem.
Hulle bestuur die onderneming, wat reeds vyf takke het.
Die twee susters vertel hoe hul ma, toe hulle nog kinders was, saans ‘n 25kg-sak met versiersuiker sou huis toe bring. Hulle het dit dan in kleiner sakkies verpak, en vir hul harde werk is hulle met 20c sakgeld beloon. Min het hulle geweet dat versiersuiker een van DemZa se topverkopers sou wees.
Toekoms met dankbaarheid betree
DemZa se bestuurslede bedank elkeen wat reeds kom inloer het, ‘n oproep gemaak het, of ‘n boodskap gestuur het om hulle met die nuwe perseel geluk te wens.
Hulle rig boonop ‘n besonderse woord van dank aan hul getroue, vriendelike en behulpsame personeel wat baie beslis tot die onderneming se sukses bydra.
Die DemZa-bestuur meen die onderneming se vooruitgang oor die jare heen is te danke aan genade van bo, en daarvoor kan hulle nie dankbaar genoeg wees nie.
■ Kliënte word genooi om die Bethlehem-tak van DemZa op sy nuwe perseel by Murrystraat 35A, Bethlehem te besoek vir ‘n nuwe inkopie-ervaring.
DemZa het ook takke in Kroonstad, Sasolburg, Welkom en Vanderbijlpark.







