Foto: Madeline Bowen/Unsplash

Photo by Madeline Bowen on Unsplash

Die Bethlehemse DBV slaak ’n sug van verligting nadat die Nasionale Loterykommissie sy aansoek om finansiering goedgekeur het.

“Ons is opreg dankbaar vir die meevaller van die Lotto, want ons het die geld werklik nodig,” sê Marius Dreyer, wat as waarnemende voorsitter dien.

“Ons voormalige voorsitter, Corlene van der Merwe, het oorspronklik hiervoor aansoek gedoen, maar sy is ongelukkig einde Oktober deur die Nasionale Dierebeskermingsvereniging verwyder. Daarom moes ons bestuurspan weer papierwerk by die Lotto in Welkom invul om te verseker dat ons wel die geld kan kry.

“Die uitbetaling behels natuurlik ook ’n lang proses.”

Groot omstredenheid het geheers toe Van der Merwe, wat sedert 2010 by die Bethlehemse DBV betrokke is, op 29 Oktober ’n brief van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) ontvang het om haar in kennis te stel dat sy uit haar amp verwyder word.

Van der Merwe en haar regspan doen regsstappe om die skielike ontslag teen te staan.

Dreyer sê die groot uitdaging is om dag-tot-dag-werksaamhede ten volle uit te voer.

Maandelikse bydraes is nodig om die werksaamhede voort te sit.

“Die Lotto-geld kan ook nie net gebruik word nie, dit word vir spesifieke doeleindes en projekte, soos in die aansoek aangedui, toegeken – en dit dek byvoorbeeld nie ons veearts­rekening nie.”

Die geld van die Nasionale Loterykommissie sal heel moontlik eers volgende jaar beskikbaar wees.

Intussen doen die DBV ’n dringende beroep op die gemeenskap om veral nou in die Desembervakansie ’n bydrae te lewer aangesien iets vir al die Desember uitgawes kortkom.

Honde- en katkos is ook nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article