Tydens die AfriForum-kongres wat vanaf 22 tot 25 Augustus op Klein-Kariba by Bela-Bela plaasgevind het, het die Bethlehem-tak verskeie toekennings ingepalm. Van links is, Juandre Gelderblom (takvoorsitter), Kallie Kriel (hoof: AfriForum), Jaco Grobbelaar (streekshoof: AfriForum) en Ian van Straten (Bethlehem-buurtwagleier).Foto: verskaf


Die AfriForum-tak in Bethlehem het tydens die organisasie se kongres in Klein-Kariba, buite Bela-Bela, van 22 tot 25 Augustus, uitmuntend presteer. Die tak het met twee gesogte toekennings terug na die Oos-Vrystaat gekom.

Op die kongres, wat elke drie jaar plaasvind, het die Bethlehem-tak die eerbewyse van Tak van die Jaar (Sentraalstreek) en Buurtwag van die Jaar in dié streek ontvang. Die tak het al die benoemingskriteria oorskry met ’n volledige takbestuur en buurtwag, vyf opgeleide protospanlede, drie lede met vlak C, D en E Psira-kwalifikasies, ’n opgeleide hommeltuig-operateur, drie opgeleide trauma vrywilligers, en sewe buurtwaglede wat aan nasionale massa-patrollies en operasies deelneem.

Die buurtwag het ook erkenning ontvang vir hulle samewerking met die polisie en privaat sekuriteitsfirmas in die bekamping van misdaad. Benewens hierdie prestasies, is die buurtwag ook aktief betrokke by die bestryding van veldbrande en veediefstal. Die Bethlehem-tak speel ook ’n rol in gemeenskapsake soos die toetsing van watergehalte, evaluering van vullisterreine, en die toetsing van brandkrane.

Die tak het ook uitgestaan vir hul gemeenskapsdienste, waaronder die #HerstelEnVersnel-veldtog, waar hulle 68 sakke rommel ingesamel, 40 stormwaterdreine skoongemaak en 4km se gras gesny het. Hierdie veldtog is net een van vele wat deur die tak suksesvol uitgevoer is.

“Danksy die gemeenskap en sakeondernemings se bereidwilligheid om ons te ondersteun, was dit moontlik vir die Bethlehem-tak om hierdie eerbewyse te ontvang. Ons is opreg dankbaar vir elke AfriForum-lid wat bygedra het tot hierdie prestasies,” sê Christa Ikking, distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek.

Die gassprekers op die kongres was Kallie Kriel (AfriForum), Helen Zille, Dirk Herman, Flip Buys (albei van Solidariteit), Phil Craig, Leon Fourie en Grandi Theunissen.

Pieter Smith, Elizma Theron en Abel het die gaste met hul optredes vermaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article