Drie liggaamsbouers van Kroonstad het in hul eerste kompetisie vir die jaar stof in hul teenstanders se oë geskop.
Iwandi Rohlandt (20), Melany Botha (26) en Rubin Botha (29) van die Tribal Fitness-gimnasium in Kroonstad het op 11 Junie aan die Evolution Grand Prix, ’n private liggaamsboukompetisie in Klerksdorp, deelgeneem.
Iwandi en Melany het Kroonstad se naam hoog gehou toe hulle met verskeie eerste plekke bekroon is.
Iwandi spog met drie eerste plekke. Sy het ’n eerste plek in die beginner-afdeling vir natuurlike bikinilyf behaal, die eerste plek in die junior afdeling vir natuurlike bikinilyf – waar sy teen 23 deelnemers moes meeding – en sy is as die algehele wenner in haar lengte-afdeling gekroon.
Boonop kon Iwandi eindelik met trofee vir die algehele wenner in die afdeling vir natuurlike bikinilyf spog.
Melany het die gehoor aan haar voete gehad toe sy in die figuur- ope klas as die algehele wenner aangewys is.
Ná bykans twee jaar was dit Rubin se eerste kompetisie. Hy kon die afgelope twee jaar weens ’n borsspierbesering nie aan kompetisies deelneem nie.
“Dit was vir my ’n groot uitdaging, en ek moes myself sielkundig en fisiek goed voorberei om met die regte ingesteldheid op die verhoog te gaan,” sê hy.
Rubin het in die o.90 kg-afdeling, waarin die kompetisie straf was, deelgeneem. Hy het die algehele vierde plek behaal.
Rubin, eienaar van die Tribal Fitness-gimnasium, rig ook vir Iwandi en Melany af.





