Die Viljoenskroon-tak van AfriForum het oor twee dae 19 stopstrate in die dorp se verkeerstrepe geverf.
Die verkeerstrepe is op 20 September en 4 Oktober by sewe kruisings geverf, wat dié van Campbell- en Engelbrechtstraat, Campbell- en Denyssenstraat, Campbell- en Piet Retiefstraat, Kerk- en Denyssenstraat, Denyssen- en McGregorstraat, Campbell- en Viljoenstraat en Viljoen- en Kerkstraat insluit.
Die tak het dit as noodsaaklik vir padveiligheid beskou omdat die meeste padtekens weg is, of so verbleik dat dit onleesbaar is. Dit hou veral gevaar vir besoekers aan die dorp in.
“Dit was ’n reuse-poging van die Viljoenskroon-tak om ’n daadwerklike verskil in die dorp te maak en om padveiligheid só te probeer verseker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Vir meer inligting oor die tak se bedrywighede, bel Boet Wienand by 082-888-1708.





