Hewige donderstorms het groot skade in die Bethlehem- en Steynsrus-omgewing aangerig waar bome omgewaai is en talle inwoners dakloos gelaat is.
Grootskaalse skade weens stormsterk wind en donderstorms is op 6 en 7 Desember oor groot dele van die Noord en Oos-Vrystaat aangerig.
Meer as 450 huise in Matlwangtlwang, Steynsrus, is verwoes en inwoners is dakloos gelaat.
Die Moqhaka- plaaslike munisipaliteit se nood- en rampbestuurowerhede en nooddienste moes inspring om tydelike verblyf vir inwoners te reël.
Die Matlwangtlwang-gemeenskapsaal en -hoërskool is beskikbaar gestel vir tydelike verblyf, terwyl owerhede die skade bereken.
Op Woensdagaand 6 Desember, het ’n erge storm in Bethlehem bome omgewaai en dakke van geboue afgeruk en beskadig.
Onafhanklike raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit Isoldé Laesecke sê verskeie woonbuurte het deurgeloop.
“Die brandweerspanne, en die munisipaliteit se parke-afdeling moes bontstaan om al die oproepe van skade wat aangemeld is te hanteer.”
Intussen het die nasionale departement van menslike nedersettings Vrydag ’n assessering in Bethlehem gedoen, veral in wyk 4 en 6, om vas te stel hoeveel skade aangerig is, sê Tshediso Maitse, woordvoerder vir die munisipaliteit.
Laesecke sê op ’n raadsvergadering Vrydag is gesê dat oor die 200 gesinne deur die storm geraak is.
AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder in Bethlehem, het verlede week aan Netwerk24 bevestig dat geen sterftes weens die storm in die Bethlehem-omgewing aangemeld is nie.
Vrystaat Landbou (VL) het in ’n verklaring gesê dat boere in die Marquard-omgewing groot skade weens erge storms en haelbuie gely het.
’n Boer van die omgewing het 100% skade aan sy sonneblomland gely en sal weer moet plant.
Volgens Hugo van Doornick, VL-streekverteenwoordiger in die Dihlabeng-distrik, het reën van tussen 8 mm en 19 mm verlede week noord van Bethlehem geval, terwyl 24 mm en minder tussen Clarens en Fouriesburg gemeet is.
Len Smith van Kroonstad, wat sedert 1991 maand ná maand die dorp se reënval meet, sê Kroonstad het op 6 en 7 Desember 79 mm reën gekry wat met hewige storms gepaard gegaan het.
Volgens Hugo van Doornick, Vrystaat Landbou-streekverteenwoordiger in die Dihlabeng-distrik, het reën van tussen 8 mm en 19 mm noord van Bethlehem voorgekom, terwyl 24 mm en minder tussen Clarens en Fouriesburg gemeet is.
Len Smith van Kroonstad wat sedert 1991 die dorp se reënval aanteken sê Kroonstad het op 6 en 7 Desember 79 mm reën gekry wat met erge storms gepaard gegaan het.





