Deur genade was ons bevoorreg om ’n rukkie lank langs die kus te gaan ontspan. Dit was ’n welkome wegbreekkans ná ’n bedrywige jaar vol uitdagings, verskeie hoogtepunte en ’n paar eerstes. Danksy die heerlike vakansie is my tenk weer volgemaak en is ek gereed om die nuwe jaar aan te pak.
Nadat ek twee dae lank eers moes akklimatiseer aan die kus (ek weet steeds nie of dit die skoon, vars lug was of omdat ek heeltemal kon ontspan dat ’n slaperigheid my oorval het nie) kon die vakansie behoorlik begin.
Agtermiddag, ná ’n middagslapie, stap jy see toe en bykans elke verbyganger groet vriendelik of maak sommer geselsies.
Daar heers ’n lekker onopgesmukte atmosfeer, saam met die saligheid van die see se gedruis. Almal glimlag en lyk vrolik en ontspanne. Die gereelde vakansiegangers by ons bestemming voel al soos familie en dit is selfs wonderlik om te sien hoe die kinders voor jou oë grootword. ’n Bekende akteur in die vermaaklikheidsbedryf stap verby en lag en gesels met almal en is ook al deel van die vakansie-familie.
Jy hoor die hengelaars, wat mekaar pas ontmoet het, deel raad oor waar om die beste visse uit te trek. Selfs die honde, wat nie vir mekaar knor nie, is opgewonde om mekaar te sien.
So dink ek by myself: Ons is veronderstel om vriendelik, hoflik, asook belangstellend teenoor ons medemens te lewe.
Die wonderlike samesyn voed die siel terwyl dit ook voel of die tyd ’n bietjie stadiger verloop. Geen gejaag, stres of welke verskoning wat ons gewoonlik uitdink om nie hoflik en vriendelik teenoor mekaar op te tree nie.
Daar en dan besluit ek om my volgemaakte tenk vol te probeer hou. Vol van vriendelikheid, hoflikheid en belangstelling in die mense om my. Te duiwel met verskonings, soos ek is te haastig of onder druk, want vriendelikheid kos niks.

