Dit wil voorkom asof daar eindelik ingegryp is wat betref gebrekkige onderhoud van paaie in die Vrystaat met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) wat die herstel van die R26-roete vanaf Rouxville via Ficksburg verby Bethlehem by die departement van paaie en vervoer oorgeneem het.
Motoriste wat van die stuk pad tussen Bethlehem en Ficksburg gebruik maak, was oorstelp van vreugde toe daar herstelwerk aan dié lewensbedreigende pad gedoen is.
“Die R26-pad vanaf Rouxville via Ficksburg na Bethlehem en Reitz is ’n uiters belangrike roete; vir ekonomiese vooruitgang, maar ook vir die landbousektor,” sê Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat.
“Daarom het ons ’n versoek aan die provinsie gerig dat Sanral die pad oorneem vir herstelwerk.”
Jankielsohn reken dat dié roete, wat belangrike punte met mekaar verbind en langs die Lesotho-grens strek, hanteer moet word soos die N5 vanaf Winburg via Bethlehem na Harrismith; en die N8 vanaf Kimberley via Bloemfontein na Lesotho.
Verlede jaar Junie het Netwerk24 berig die plig om herstelwerk aan die R26 te doen word deur die Vrystaatse premierskantoor na Sanral verplaas.
Onderhoud van die roete is jare reeds ’n kwelpunt en in Maart 2021 het landbou-organisasies en taxibestuurders ’n optog gereël om hul misnoeë uit te spreek oor die stand van die R26 en die R70-roete vanaf Ficksburg na Senekal.
Sowat drie jaar later is die paaie steeds nie volkome herstel nie.
Jankielsohn sê die gevaarlikste dele op die R26-roete word deur Sanral herstel, maar dit is steeds net laslappiewerk om die pad meer begaanbaar vir padgebruikers te maak.
Trevor du Bruyne, ’n werknemer van die Ionia-kersieplaas, sê dat ’n groot gedeelte van die R26 tussen Ficksburg en Fouriesburg herstel is en dat dit die pad toegankliker maak.
Die Ionia-kersieplaas is ’n gewilde toeristebestemming langs die R26-roete.
VrystaatKroon het ’n navraag oor die stand van sake aan Hillary Mophethe, woordvoerder vir die departement van polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat, gerig.
Met druktyd is egter nog geen terugvoering ontvang nie.




