’n Verskeidenheid kompetisies word weer aangebied, en feesgangers word aangemoedig om aan byvoorbeeld boeresport deel te neem. Hier is van verlede jaar se sakresiesdeelnemers.


Vanjaar word die 44ste VKB Bieliemieliefees in Reitz aangebied, en organiseerders is opgewonde daaroor om besoekers van oraloor met plattelandse gasvryheid te verwelkom.

Die fees sal vanjaar van Donderdag 22 Februarie tot Sondag 25 Februarie plaasvind, met die feesterrein se hekke wat die Donderdag reeds om 12:00 open.

Die VKB Bieliemieliefees is een van Suid-Afrika se grootste en gewildste landbouskoue, wat jaarliks deur 20 000 plus feesgangers besoek word.

Elke jaar word die nuutste landboutoerusting en -tegnologie uitgestal, en vanjaar se uitstalling met ware ter waarde van R60 miljoen sal beslis nie teleurstel nie.

Op die fees sal boere die geleentheid gebied word om te spog met hul heel beste vee in die kudde- en slaglamkompetisie, die beesuitstalling en ramveiling.

Die fees is nie beskeie wat kompetisies betref nie, en feesgangers kan onder meer daarna uitsien dat deelnemers kragte meet met potjiekos, draadkarre, boomversierings, boeresport, bulletjie-rugby, netbal, bergfietsry, hengel, gholf en in die marathon.

Organiseerders moedig almal aan om aan die kompetisies deel te neem.

Feesgangers kan boonop vertonings met perde en honde, asook ’n lugvertoning, deur die loop van die naweek verwag.

Die kleinspan word nie afgeskeep nie en kinders kan van naderby met diere kennis maak, (“petting zoo”), op kamele ry, stampkarre ry, aan skattejag deelneem en ’n opwindende pretpark verken, om slegs ’n paar van die aktiwiteite vir jonges te noem.

Die volwassenes kan na geleentheid vir ontspanning in ’n gesellige kuiertent uitsien, asook kosstalletjies met eetgoed na elkeen se smaak.

’n Wye verskeidenheid interessante ware, van hommeltuie tot kamoefleerserpe, parfuum en soetgoed, sal by ander stalletjies te koop wees.

Organiseerders beloof dat elke besoeker aan vanjaar se VKB Bieliemieliefees iets sal vind wat vir hom of haar plesier verskaf.

Vermaak is hoog op die voorkeurlys van vanjaar se fees.

As deel hiervan is 13 bekende vermaaklikheidskunstenaars en groepe sorgvuldig uitgesoek om feesgangers van vroeg tot laat te vermaak. Die name op die program is: Juanita Claassen, Bok van Blerk, Adam Tas, DJ Crazy, Early B, Droomsindroom, Tommy Dell, Barbara Rey, Samantha Leonard, Dodo Nyoka, Eloff en Prop.

Die dertiende is Danie Botha, prediker en sanger, wat die fees Sondag met ’n dankseggingsdiens by die NG moedergemeente Reitz afsluit.

Mense wat die VKB Bieliemieliefees wil besoek, word aangemoedig om die naweek van 22 tot 25 Februarie in hul beplanning in te sluit en selfs sommer nou reeds slaapplek te bespreek – want as die feesgees eers hoog loop, is dit moeilik vir hulle om huiswaarts te keer.

Vir meer besonderhede en alle inskryfvorms, besoek bieliemielie.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article