Mense met hoop, drome, begeertes en planne, het groot gedeeltes van hul lewe ’n intussen-lewe. Jy hoop vir beter inkomste, reën, verhoudings wat herstel, en dalk ’n normale lewe.
Maar wat tot dan van tot dit gebeur?
Hierdie intussen-lewe wat meestal uit wag bestaan, is seker een van die moeilikste tye van ons lewe. Dit wissel tussen die versoeking om daadwerklik die lewe te probeer manipuleer, of self- en geloofstwyfel.
Die geloofshelde van Hebreërs 11 wys ook vir ons hierin wat geloof beteken. Hulle het God bly vertrou en in Hom geglo ten spyte van die uitkoms. Hebreërs 11:13 lui: Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is.
Abraham, byvoorbeeld, het van al die beloftes van land en ’n nageslag slegs vir Isak en ’n grot vir ’n begraafplaas besit. Tog het hy bly glo dat God getrou is.
Hulle kon hierdie geloofsgeduld beoefen, want hulle het intussen geweet dat God aan hulle karakter bou om hulle meer na sy beeld vorm.karakterbou is vir die Here belangriker as aardse voorspoed.
Die beste van geloof is dat ook woestyne (van intussen) ’n plek van lewe word waar ons groei, beweeg en verbeter. Jeff Manion sê: Ons geloofsreaksie in die land van intussen sal bepaal of ons ook in die tye van wag nie nutteloos is nie, maar groei na diep en positiewe lewensvaardighede.
Gebed
- Here, ek wil glo dat alle lewe uit U hand is, dat vandag die res van my lewe is en hierdie lewe voorbereiding vir sinvolle bestaan is in die ewigheid by U. Amen.Els was voorheen oudleraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.


