Oud-Bethlehemiet en bekende musikant Alouise Peens sal binnekort in Bethlehem optree met haar Opi(NIE)-vertoning .
In dié vertoning sal Peens die gehoor met haar musiek op reis neem en mense aanmoedig om die mure wat die wêreld om jou bou, af te breek en om die unieke mens wat jy is, weer te vind.
“Jy is meer as die grimering wat jy dra, meer as die woord vrou of ma, meer as die prentjie wat mense skep, meer as jou Instagram likes of jou bankbalans; jy is wie jy is. Jy is braaf, jy is sterk, jy is jy. Jy is meer as iemand se opinie,” sê Peens.
Sy sien uit om weer saam met die bekendes van Bethlehem te kuier. Die vertoning word by die Hoërskool Witteberg se Lavina Schabort-kleinteater aangebied.
Peens was ook voorheen die baskitaarspeler vir Bok van Blerk en tree gereeld as solokunstenaar op. Sy bied ook musieklesse aan en is die afgelope 11 jaar in Pretoria woonagtig.
‘n Vertoning wat nie sal teleurstel nie, word beloof. Daar is slegs 56 kaartjies beskikbaar vir die vertoning wat op Vrydag 24 Mei plaasvind. Kaartjies is op Quicket teen R180 te koop, wat ‘n glasie sjerrie insluit.





