’n Suksesvolle noodlanding met ’n Tiger Moth-vliegtuig deur vlieënier Hennie Delport is op Vrydag 10 Mei omstreeks 10:00 op die N1-hoofweg buite Kroonstad uitgevoer. Hier is owerhede en belanghebbendes besig om die vliegtuig vanaf die N1 na die Jordaniapark-aftreeoord in Kroonstad te sleep, omdat die pad na die vliegveld buite die dorp te gehawend is.Foto: verskaf


Die vlieënier van ’n Tiger Moth-vliegtuig moes op Vrydagoggend 10 Mei ’n noodlanding op die N1-hoofweg buite Kroonstad doen toe die vliegtuig, nadat dit in Kroonstad opgestyg het, enjinprobleme ondervind het.

’n Suksesvolle noodlanding is deur vlieënier Hennie Delport op die N1-hoofweg gedoen. Delport en ’n passasier was vanaf die Randse Lughawe in Gauteng na Komani (Queenstown) in die Oos-Kaap onderweg.

Hulle het in Kroonstad geland om die vliegtuig se brandstoftenk te vul. Kort ná die opstyg het die enjin van die Tiger Moth onreëlmatig begin loop en Delport het besluit om eerder ’n noodlanding te doen.

Hy kon daarin slaag om omstreeks 10:00 ’n suksesvolle noodlanding op die bedrywige N1-hoofweg uit te voer, en niemand is in die voorval beseer nie.

Owerhede is na die toneel ontbied om die verkeer te reguleer terwyl die enjin steeds geluier en die skroef gedraai het. Fanie Keyser, eienaar van die Fantini Air-vliegskool in Kroonstad en Kaapstad, het ook hulp verleen.

“Dit was ’n voorsorglanding omdat die enjin van die vliegtuig rof begin loop het,” sê Keyser.

Die vliegtuig is met behulp van owerhede ingesleep tot by die Jordaniapark-aftreeoord in Kroonstad.

Dit is op die aftreeoord se hoofingang se grasperk gestop.

Die vliegtuig kon nie vir herstelwerk na die Kroonstad-vliegveld ingesleep word nie, weens die gehawende toestand van die pad na die vliegveld.

Volgens Keyser sal die vliegtuig die week met behulp van padvervoer terug na Gauteng geneem word.

Op VrystaatKroon se Facebook-blad is Delport se lof besing oor die suksesvolle noodlanding sonder enige beserings of erge skade.

Op netwerk24.com is ’n video geplaas waar Delport by die vliegtuig staan nadat hy daarin geslaag het om dit op die bedrywige N1-hoofroete te land.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article