Die Vrystaat se gehawende paaie en pap bande loop hand aan hand. Wanneer jy gestrand langs die pad staan, kan jy nie help om te wonder oor jou veiligheid nie. Gereeld lees ons in die media oor motordiefstalle, kapings, aanvalle en moorde.
Op Maandagmiddag 22 April het ons net buite Kroonstad ’n pap band gekry. Om die noodwiel te bekom, moes ons al die bagasie uitgelaai. Toe is die wielskroewe te styf om losgedraai te kan word. En daar staan ons gestrand. ’n Ouerige egpaar, weerloos en hulpeloos.
Uit die bloute stop ’n jongman van die nabygeleë informele woonbuurt. Uit sy motor haal hy net die regte gereedskap om halsstarrige skroewe mee los te draai.
Nog ’n man van Kroonstad, in sy werksbakkie, stop agter ons. Hy sit ook hand by, en in ’n ommesientjie is ons weer reisvaardig.
Hy het ook aangebied om voor ons uit te ry om ons te gaan wys waar die pap band gou herstel kan word.
Dit is ’n feit: Ons land se paaie is swak en misdaad vier hoogty. Maar uit al die verskillende bevolkingsgroepe is die meerderheid mense beslis gaaf en vriendelik en hulpvaardig.
Met groot dankbaarheid vir die hulp wat ons so onbaatsugtig daar langs die pad van vreemdelinge ontvang het, kan ons net konstateer: Daar is hoop vir ons land!

