Skenkers wat ’n bydrae aan die Kombersprojek gelewer het, kon ’n vakansie by een van die ATKV-vakansieoorde wen. Saam met Sarel Hattingh van die ATKV is die wenners van die Laerskool Jordania in Bethlehem, Hez-Marie Coetzee (links) en René van Staden.


Die Bethlehem ATKV-tak het vanjaar sy 11de Kombersprojek bedryf, wat sopas ten einde geloop het. Twee Bethlehem-skole, asook die Bethlehem-rolbalklub, het aan die jaarlikse projek deelgeneem, en 160 komberse is ingesamel.

In die afgelope 11 jaar is altesaam meer as 4 000 komberse ingesamel.

In 2022 was die Dihlabeng Mall in Bethlehem ook betrokke en in dié jaar is 1 700 komberse ingesamel.

In 2017, met die groot Knysna-brande, het die tak vier bakkievragte vol komberse aan behoeftiges in dié kusdorp geskenk.

“Die komberse word aan verskillende behoeftiges en instansies wat dit benodig gegee,” sê Fires van Niekerk van die Bethlehem ATKV-tak.

“Die dankbaarheid wat daardie mense toon, gee ons die motivering om elke jaar met die projek aan te gaan.

“Daarom hoop ek dat elke kombers se pad vanaf die skenker tot die ontvanger sal wys hoe groot God se genade oor ons almal is en dat elke gebruiker vreugde sal put uit sy kombers.”

Komberse wat nie meer geskik is vir menslike gebruik nie word aan die DBV geskenk.

Om mense te motiveer om te skenk is daar jaarliks wonderlik pryse op die spel vir verblyf by verskillende ATKV-oorde oor die land heen.

Die pryswenners vanjaar is: Elna Steyn van die rolbalklub (verblyf by die Klein-Kariba-oord); ATKV-lede Pieter en Marí Grobbelaar (Natalia), asook Georg en Connie van Niekerk (Natalia); nie-ATKV-lid Mike Visser (Klein-Kariba); Hez-Marie Coetzee (Buffelspoort) en René van Staden (Buffelspoort) van die Laerskool Jordania; by die Hoërskool Witteberg was die wenners Cara Cilliers (Buffelspoort), Corné du Plooy (Buffelspoort) en France-Elize van Niekerk (Drakensville).

Die volgende instansies het komberse ontvang: Bambalela Shelter, Nozipo Shelter, die NG Kerk van Afrika (Bethlehem-Noord), die Witteberge-gemeente (Bakenpark), Salileni (sentrum vir volwasse gestremdes) eb die DBV in Bethlehem.

Verskeie individue het ook komberse ontvang.

Vir meer inligting rakende die tak se bedrywighede bel Van Niekerk by 083-630-8545.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article