Groot kommer heers oor volhoubare watertoevoer na dorpe in die Dihlabeng-munisipaliteit vanweë noodsaaklike herstelwerk aan die Lesotho-Hoogland-waterskema, wat beteken die tonnel sal ses maande lank gesluit wees.
Op Dinsdag 1 Oktober sal die werk aan die tonnel amptelik begin, en die munisipaliteit het in verskeie skrywes bevestig dat inwoners gerus moet wees en dat daar genoegsame water vir die tydperk is.
Raadslid Willie Theunissen van die DA sê hulle wil ook inwoners van Bethlehem en die groter Dihlabeng-munisipaliteit gerusstel dat, ondanks die sluiting van die tonnel, die invloed op die gemeenskap minimaal behoort te wees.
“Die Saulspoortdam is vol en sal daagliks noukeurig gemoniteer word om te verseker dat die watervlakke gehandhaaf word om Bethlehem en die dorpe stroomaf van Liebenbergsvlei van water te voorsien. Die reënseisoen in November en Desember behoort ook die watervlak van dam aan te vul.”
Terwyl die Dihlabeng-munisipaliteit in Clarens voorbereidings tref deur boorgate te sink om watervoorsiening aan te vul, aangesien Clarens swaar geraak sal word, sal Bethlehem se watersekuriteit gehandhaaf word deur die Saulspoortdam te moniteer.
Water sal deur die sluise uitgelaat word soos benodig en soos deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) voorgeskryf. Tydelike waterbeperkings kan ingestel word om te verseker dat die vlakke van die reservoirs gehandhaaf word.
Inwoners moet ook kennis neem dat die normale hantering van waterlekke en instandhoudingswerk ’n rol in die watertoevoer sal speel. Daarom word daar versoek dat hulle in die volgende ses maande water spaarsamig gebruik totdat die projek voltooi is.
“Paul Roux en Rosendal behoort ook nie erge waterprobleme te ervaar nie aangesien hulle water vanaf Bethlehem ontvang.”



