Ek vermoed as die aarde nie rond was nie, het baie van ons daarvan afgeval – teen die spoed waarmee ons leef. Dit is asof elke inaseming met moegheid vervleg is, terwyl die einde van die jaar nader staan.

Die pas waarteen ons leef, voel soms vinniger as ’n sneltrein, en ons smag na ’n welkome breek om net weer tot verhaal te kom.

So staan ek in die ry by die apteek om my kroniese medikasie af te haal. Daar heers ’n doodse stilte en ek hoor hoe van die mense in die ry moedeloos sug. Dit is duidelik hulle voel soos die meeste van ons: moeg en uitgeput. Die wag in die ry vererger die opgehoopte frustrasies. Ek lag so by myself wanneer ek besef ons deel almal daardie jaareinde-moegheid. Ek wat op daardie oomblik nie kan wag om myself op die rusbank tuis te maak om behoorlik ná die dag asem te skep nie.

Naweke voel vir seker korter, en ek is vas daarvan oortuig dat ’n ekstra paar ure tussen Maandag en Woensdag ingepas is.

By die toonbank plaas ek sommer, so vir ingeval dit nodig is, nog ’n paar bruistablette vir energie in die mandjie. Die kassier vul die ruimte dadelik met vol houers, wat aandui dit is een van hul topverkopers.

Dit is duidelik, as ek so om my waarneem, dat ons almal teen tyd meeding. Spertye najaag van vroeg af, om in pas te bly met die moderne tye.

So met die getik van die wysers aan die horlosie voel dit net of tyd vinniger beweeg; so glo ek het ons ook verleer hoe om met mense om te gaan. Ons werk voort met oë wat op die rekenaar vasgenael is sonder om eens op te kyk wanneer ’n kollega of iemand met ons praat. Dit is soms waardevolle oomblikke wat so verlore gaan. Dit is asof daar nie tyd is om af te staan aan die belangrikheid van die feit dat iemand met jou omgaan nie. Raak ons nie verstrengel in prestasie en leef ons nie eintlik so onvergenoegd omdat die lewe ons geleer het om te leef vir dit wat nie waarde tot ons geluk toevoeg nie?

Die skrywer van die boek Prediker in die Bybel skryf dat alles ’n gejaag na wind is. Delf dieper en ons sien dat ons elke dag moet aanpak met vreugde in alles wat ons doen.

Kom tot stilstand en besef dat alles ten goede meewerk vir dié wat God liefhet met sy of haar hele hart. Kinders van God leef in die wêreld, tog is dit God se krag en genade wat ons hier laat oorleef.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article