’n Jong skrywer van Kroonstad het onlangs sy tweede roman die lig laat sien.
Die 25-jarige Jens Wiese se My Immortal Love Lucille – The Story of Gabriel Sorrough word eersdaags gedruk en beloof om lesers op ’n goeie verbeeldingsvlug te neem.
Sy eerste roman, Absolute Magnitude, is in 2019 gepubliseer. Dié boek is gegrond op die premis van asteroïdes wat op die aarde neerreën en alles verwoes.
Wiese studeer regte en mik daarna om ’n LLB-graad te verwerf. Hy het het in 2018 aan die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad gematrikuleer, waar hy sy onderwysers met sy Engelse en Afrikaanse opstelle beïndruk het.
Hy sê die inspirasie vir sy tweede roman het gekom toe hy en sy vrou, Janique, een middag oor ’n koppie tee gesels het oor hoe besonders, mooi en interessant die Victoriaanse era was.
Die era wat van 1837 tot 1901 gestrek het, se kleredrag was die topbespreking, juis omdat Janique se trourok in ’n soortgelyke styl was.
Hulle het ook gesels oor hoe die wêreld in die 1920’s en daarna drasties verander het, en die invloed daarvan.
“Ek het toe begin dink aan die onsterflikheid van daardie era. Dat dit nog so vars uitgekerf is in almal se geheue dat selfs ons geslag wat nie in daardie tyd geleef het nie, steeds daaroor praat.
“My gedagtes het die verband getrek tussen onsterflikheid, die lewe en verandering, en toe gedwaal na waaroor my nuwe roman handel: ’n Victoriaanse vampier genaamd Lucille; ’n liefdesverhaal tussen ’n man genaamd Gabriel Sorrough in die 1930’s en ’n onbekende, beeldskone dame. ’n Fiktiewe drama vol aksie, spanning en trauma. ’n Verhaal van hartseer, verlies en passie. My absolute meesterstuk.”
Nadat die idee posgevat het, het Wiese begin skryf – en sy karakters en storielyn het uit sy pen gevloei.
Die roman neem die leser dadelik na die romantiek van die Victoriaanse era.
Die boek se reklameteks lui: “Gabriel’s existence is transformed when Lucille, a mystifying and beautiful stranger, intervenes in his darkest moment.
“As their connection intensifies, Gabriel becomes entangled in a web of mystery and terror. Lucille’s powers are both captivating and terrifying, and Gabriel must confront the unknown to unravel her secrets. Will their bond be strong enough to overcome the darkness that haunts them, or will it ultimately destroy them?”





