Witteberg verwelkom Helpmekaar Kollege Saterdag in Bethlehem.
Witteberg verwelkom Helpmekaar Kollege Saterdag in Bethlehem. FOTO: Elna Naude

Niks toets ‘n afrigter se senuwees soos jou eerste wedstryd in beheer nie. En vir Robert Bosch wag daar nie ‘n sagte inleiding wanneer Helpmekaar Kollege op Saterdag 7 Maart in Bethlehem opdaag nie. Witteberg, vars van ‘n 17-12-oorwinning teen Wesvalia en met momentum aan hulle kant, is nie van plan om bloot touskouers in Bosch se debuut te wees nie.

Vir Helpmekaar se direkteur van rugby, Tjaart van der Walt, is die tydsberekening van hierdie wedstryd vêr van ideaal. Met die ink op hul Wildeklawer-groep-een-atletiekbeker-oorwinning nog vars, het sy spelers skaars tyd gehad om van die baan na die rugbyveld oor te skakel.

“Ons speel nog Donderdag proewe, dan een oefening Vrydag dan speel ons Saterdag; dit gaan lekker taai wees daar by Witteberg,” het Van der Walt Woensdag gesê.

Bosch mag dalk vars in die hoofafrigter-stoel wees, maar die fondamente is reeds gelê. Verlede week se oorwinning teen Wesvalia was presies die soort wedstryd wat vertroue bou.

“Dit gaan glad nie maklik wees nie. Ons verwag dat dit ‘n baie fisieke wedstryd gaan wees; maar as ons in ons strukture kan bly, staan ons ‘n kans. Dit is altyd lekker om as die buiteperd in ‘n wedstryd in te gaan,” het Bosch gesê.

Daar is wysheid in daardie laaste sin. Die “buiteperd”-etiket gee jou vryheid, geen verwagtinge, geen druk, net die geleentheid om op te tree wanneer niemand dit verwag nie. Maar moenie dink Bosch onderskat sy span nie.

“Hulle het al ‘n wedstryd onder die belt, ons wil so gou as moontlik in ons ritmes in kom. Hulle doen baie moeite met hulle rugbyprogram; so ons is opgewonde, maar ons weet dit gaan ‘n harde wedstryd wees,” het Van der Walt gesê.

Daar is respek in daardie erkenning. Witteberg is dalk kleiner, maar hulle doen sake behoorlik.

Bosch se vuurdoop gaan warm wees. Baie warm.

Maar daar s ook geleentheid in die uitdaging. Klop ‘n span van Helpies se kaliber in jou eerste wedstryd, en jy koop oombliklik geloofwaardigheid by jou spelers.

Die druk is swaar, maar Bosch lyk kalm. Hy weet wat hy het in sy span, hy glo in sy strukture.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article