Landbou dra land al woed krisis
Landbou dra land al woed krisis. FOTO: Madli Grobbelaar

Die Suid-Afrikaanse landboubedryf is een van die sterkste bedrywe in die land, nie net wat betref werkskepping nie; dit lewer ‘n enorme bydrae tot die ekonomie.

Tog is dit die bedryf wat voortdurend met talle uitdagings te kampe het.

Weersomstandighede is natuurlik een van grootste uitdagings.

Van erge droogte tot ‘n oormaat reën, soos die afgelope maand in plantseisoen, kan die proses hokslaan.

Om nie eens te praat van die veeboere wat bek-en-klouseer verwoed moet probeer bekamp nie. Die siekte wat reeds in Julie uitgebreek het, se getalle is steeds aan die styg.

Boere, die rooivleisbedryf en die verbruiker voel dit aan hul sak.

Voeg hierby swak infrastruktuur, onbegaanbare paaie en die tekort aan ywer van die regering om in te spring en hulp aan te bied, asook gebrekkige wetgewing en hulpbronne rondom rampbestuur, soos met die bek-en-klouseer.

Staatsveeartse werk hulle oor ‘n mik met minimale bystand van die regering.

Tog is dit die boere wat planne maak om te verseker dat die bedryf nie ten gronde gaan nie. Daagliks word hulle gekonfronteer met al die verskeie uitdagings, net om weer op ‘n manier bo uit te kom.

Terwyl die algemene gevoel heers dat die regering dikwels op sy louere rus, staan boeregemeenskappe saam om die stuikelbokke te oorkom.

Die landboubedryf dink nie net aan homself nie, maar ook aan die hele, wyer bevolking − wat gevoed moet word en afhanklik is van die bedryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article