‘n Huis in Kroonstad waar die inwoners die afgelope 44 jaar gewoon het, is ten aanskoue van hulle deur verwoestende vlamme in puin gelê.
Op Dinsdag 12 Augustus net ná 18:00 het die huis van Rowan en Brunhilde Gandy in Totiusstraat, Suidrand afgebrand.
Daar word vermoed die brand is weens ‘n kortsluiting veroorsaak, maar owerhede is nog besig met die ondersoek. Die brand het binne minute die grasdakhuis verswelg.
Vrywillligers het ingespring om te help en almal insluitend die eienaars is ongedeerd en veilig.
Volgens Spaski Geldenhuis, wyksraadlid, het hy verskeie WhatsApp-boodskappe omstreeks 18:33 ontvang waarin hy ingelig is dat ‘n huis in Totiusstraat besig is om af te brand.

“Owerhede is dadelik ontbied en die brandweer was vinnig op die toneel met ‘n groot water tenker, hoewel Kroonstad toe reeds drie dae sonder water was. Die Kroonstad-gemeenskap het saamgestaan en vinnig hul boorgate en swembaddens beskikbaar gestel vir water om die vuur te blus,” sê Geldenhuis.
Hy bedank die brandweer, Kroonstad-buurtwag, verkeersbeamptes, die polisie, die CPF asook alle vrywilligers vir die flinke optrede en hulp. Asook die WhatsApp-groepe wat inligting deurgee het en hulp wat aangebied is.
Verblyf is dadelik ná die voorval vir die Gandy-egpaar wat alles in die band verloor het, beskikbaar gestel.





You must be logged in to post a comment.