Die fotografieklub van Hoërskool Trio in Kroonstad staan breë bors – nie net oor die uitsonderlike gehalte van leerlinge se foto’s nie, maar omdat die klub van krag tot krag gaan.

Elke lid van die klub kry die geleentheid om voortdurend in tegniek, kreatiwiteit en vaardigheid te ontwikkel.

Die klub word deur Carina Serfontein, kommunikasie- en skakelbeampte van Trio bestuur. Die klub het 21 lede wat foto’s neem tydens skool- en sportgeleenthede en spesiale dae wat deur die skool aangebied word.

Tshepo Mokoena het die foto van hokkiespelers geneem. Foto: Tshepo Mokoena

“Die fotografieklub funksioneer by Trio soos ’n buitemuurse aktiwiteit. Lede kies ná altiwiteite of geleenthede hul beste foto’s, waarna dit deur ’n beoordelingspaneel van 39 mense beoordeel word om die wenfoto van die week aan te wys,” sê Serfontein.

Lede woon gereeld opleidingsessies deur professionele fotograwe by waar hul tegnieke en vaardighede verder geslyp word.

Carla van Deventer, ‘n lid van die Hoërskool Trio se fotografieklub het die foto van ‘n Trio-rugbyspeler afgeneem. Foto: Carla van Deventer

Hulle word touwys gemaak oor hoe om hul kameras optimaal te gebruik en hoe om verskillende soorte foto’s perfek vas te vang. Slimfoon-fotograwe in die klub het ook spesiale opleiding ontvang en is geleer hoe om nuwe tegnieke effektief met hul toestelle toe te pas.

Serfontein sê fotografie is veel meer as net die druk van ’n knoppie, dit is ’n unieke kunsvorm. Dit bied aan jong fotograwe die geleentheid om die wêreld en die emosie daarin op hul eie manier vas te vang.

“Ons is trots om te sê dat ons lede oor ongelooflike kreatiwiteit beskik. Hulle is ’n werklike aanwins vir Trio.”

Die foto van netbalspelers is deur Mia Fenwick geneem.
 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article