BETHLEHEM – ‘n Hoop grond en afval teer wat op die hoek van Impala-singel en Buitestraat in Bethlehem, voor die oprit van ‘n inwoner deur die Dihlabeng-munisipaliteit gelaat is, is deur die AfriForum-tak in Bethlehem opgelaai en voor die munisipaliteit se hek afgelaai.
Dit volg nadat die munisipaliteit op Vrydag 18 Julie, ’n waterlekplek op die hoek van Impala-singel en Buitestraat herstel het. Ná die herstelwerk is die hoop grond en afval teer voor die oprit van ’n inwoner se woning gelaat. Dit het toegang tot die inwoner se huis versper. Ondanks talle oproepe en klagtes, het die munisipaliteit geen aksie geneem om dit te verwyder nie. Dit is toe dat die organisasie besluit het om in te gryp.
Hierdie voorval volg kort ná ’n soortgelyke geval vroeër vandeesmaand waar die munisipaliteit ’n waterlekplek in Wesselstraat voor die Laerskool Truida Kestell herstel het. Die gat wat die munisipaliteit vir die herstelwerk gegrawe het, is eers ná twee weke gedeeltelik met ongekompakteerde grond toegegooi en met ‘n drom in die middel van die pad afgesper. Tot op hede is die herstelwerk nog nie voltooi nie.
“Ons is moeg daarvoor om telkens die munisipaliteit se werk namens hulle te verrig en dit boonop uit ons eie sak. Hierdie keer het ons besluit dat hulle self die frustrasie moet voel wat ons daagliks ervaar,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.





