Die uitvoerende hoof van graandienste by die VKB-groep, Johan van Rensburg, is in Maart tot die nuwe president van die Graanhanterings- organisasie van Suider-Afrika (GOSA) verkies.
In die VKB Groep se wêreld, waar grane nie net hoofsaak op tafels is nie, maar ook in landbou, is GOSA-verteenwoordiging uit eie geledere iets waaroor elke graanprodusent positief kan wees, veral in terme van gemoedsrus dat daar na hul belange omgesien sal word.
Van Rensburg het met hardwerkendheid en deur praktiese ondervinding sy pad in die landboubedryf gebaan. Vandag het hy – as president van GOSA – ʼn sterk visie vir die toekoms, asook die praktiese ondervinding om die visie ʼn werklikheid te maak.
GOSA is meer as 40 jaar gelede deur graansilo-eienaars gestig, omdat hierdie mense op grondvlak verstaan het dat die graanbedryf ʼn liggaam soos GOSA benodig. Die rol wat GOSA sedertdien vervul, ontwikkel en vernuwe deurentyd. Een ding bly onveranderd: Dit is ʼn platform wat die graanhandel in Suid-Afrika bevorder deur standaarde, integriteit en samewerking tussen alle betrokkenes in die graan-waardeketting te handhaaf. Boonop is die GOSA-span vrywillige werkers wat nie ʼn sent verdien nie, maar betrokke is vir ʼn groter doel.
Deel van die “groter doel” vir GOSA is om kennis te deel tot die bevordering van die bedryf en netwerkgeleenthede tussen verskillende betrokkenes te skep. Dit is juis waarom GOSA se lede meestal individue is en nie instansies nie.
Jare gelede, toe Van Rensburg aanvanklik deel van GOSA geword het, het dit egter anders gelyk. Volgens hom was daar destyds strenger kriteria vir mense om deel van GOSA te word, maar sy voorgangers het die pad vir gewone mense, soos hy, oopgekap.
Hy het as jongman landboubestuur aan die destydse Technikon in Bloemfontein studeer en in April 1995 as graansilo-assistent by VKB begin werk. Vandag, as president van GOSA, sê Van Rensburg dat sy take by dié organisasie hom toelaat om roepinggedrewe te leef.
Sy visie vir die organisasie is om dit as platform vir belangegroepe uit te bou. Hy beplan om sy sterk karaktereienskap van verbondenheid te gebruik om al die aspekte van graanhantering, en al die belangegroepe van die graan-waardeketting, bymekaar te bring. Verder wil hy die inkoop van lede versterk deur hul behoefte om kennis van die bedryf op te bou te verstaan en aan te spreek.
Die jeug is ook vir Van Rensburg ʼn fokusgebied, want hy wil hom beywer om jongmense passievol oor die bedryf en die platteland te maak. Om mee te begin kan GOSA-lede verwag om al hoe meer aanlyn werkssessies by te woon.
GOSA se jaarlikse simposium was in Maart en dit was ʼn byeenkoms gefokus op strategie. Daar is in Oktober weer ʼn byeenkoms: dié keer operasioneel gefokus, oor praktiese silobestuur.
Terugploeg
Dít is die woord wat eerste by Van Rensburg opkom wanneer hy gevra word waarvoor hy staan.
Sy visioenêre karakter beloof om baie waarde tot GOSA te voeg – so ook sy beginsels. Uit sy opmerking “my grootste vrees is om in ʼn groef te val,” kan ʼn mens gerus wees dat hy nie gaan stilstaan nie. Hy beklemtoon dat dit hom ʼn huppel in die stap gee om te sien hoe mense groei. Sy raad aan hulle sal wees: ” ʼn Mens is nooit klaar gegroei nie, en jy moenie bang wees om foute te maak nie.”
Hy steun die aanhou-leer-filosofie en glo dat dit hom help vorm het toe hy as jongmens toegelaat is om foute te maak en daaruit kon leer. Sy leergierige gees blyk ook daaruit dat hy sewe tale magtig is: Afrikaans, Engels, Sotho, Zulu, Xhosa, Noord-Sotho en Spaans. Boonop is hy besig om sy vaardighede deur studie te verskerp.
Met sy grootwordjare op ʼn plaas in die Villiers-omgewing van die Oos-Vrystaat kan dit nie anders as dat hy ʼn groot liefde vir landbou het nie. Hoewel hy die noodsaaklikheid van agronomie waardeer, is vee sy groot landbou-liefde.
Hy moes vinnig leer swem toe hy as jongman aan die diep kant van die graanbedryf ingegooi is. Sy intrede tot die bedryf was net mooi toe die graanbedryf in Suid-Afrika drasties verander het (ná 1994). Daar was ʼn groot skuif van beheerrade na die vrye mark. Van Rensburg beskryf dié tydperk as die laagtepunt van die “ou graanbedryf”, maar is dankbaar dat hy eerstehands kon beleef – en steeds – hoe die vrye graanmark ontwikkel.
Sy reis van graansilo-assistent na GOSA-president weerspieël die oop pad wat dié organisasie vir elke lid in die graanbedryf skep: ʼn platform waar ervaring en entoesiasme mekaar ontmoet.
In Van Rensburg kry GOSA ‘n kundige leier met dekades se ervaring, asook ‘n roepinggedrewe brugbouer wat mense verbind – tussen geslagte, sektore én streke.




