Ongeluk
Die ongelukstoneel op die N7 waar ‘n vragmotor verongeluk het. Foto: West Coast Medical Rescue/ Facebook

’n Ongeluk gistermiddag (16 Januarie) waarin ’n vragmotor wat seisoenale plaasarbeiders vervoer het, op die N7, sowat ’n klipgooi buite Piketberg in die rigting van Moorreesburg, omgeslaan het, het talle beseer gelaat.

Volgens Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Rural and Farmworkers Development Organisation, is ongeveer 47 beseerde plaasarbeiders tans in verskillende hospitale opgeneem. Twee van die werkers het ernstige beserings opgedoen.

Claasen het gesê die twee persone wat ernstig beseer is was in die vragmotor vasgekeer en moes deur paramedici uit die wrak bevry word. Een van die werkers is per helikopter na Tygerberg-hospitaal vervoer nadat hy glo albei sy bene in die ongeluk vergruis het.

Ongeluk
‘n Helikopter van die Wes-Kaapse regering se gesondheidsdientste was op die ongelukstoneel om ‘n pasiënt na Tygerberg-hospitaal te vervoer. Foto: Verskaf/ Billy Claasen

Daar was na bewering meer as 70 seisoenale arbeiders op die vragmotor ten tyde van die ongeluk. Al die werkers was glo in diens van ’n druiweplaas in die Piketberg-omgewing en bly in Mbekweni buite die Paarl, het Claasen gesê.

Volgens hom het die vragmotor na bewering beheer verloor, oor die pad geskuur en uiteindelik op sy sy tot stilstand gekom.

Claasen het verder beweer dat ’n aantal van die werkers ongedokumenteerde immigrante is, en dat sommige ná die ongeluk van die toneel gevlug het uit vrees vir arrestasie.

West Coast Medical Rescue, ‘n private nooddiens wat op die ongelukstoneel was, het op sy Facebook-blad gesê dat meer as 35 pasiënte op die toneel behandel is vir geringe tot kritieke beserings.

‘n Gedeelte van dIe N7 naby Piketberg nadat ‘n vragmotor wat plaasarbeiders vervoer het, verongeluk het. Video: Verskaf/ Billy Claasen

“Hierdie voorval ontbloot weereens die sistemiese minagting vir die veiligheid, waardigheid en lewens van plaasarbeiders. Oorvol en onveilige vervoer het ’n dodelike norm in die landbousektor geword, aangevuur deur arbeidskontrakteurs en sommige boere wat steeds wins bo menselewens stel,” volgens ‘n verklaring deur die Rural and Farmworkers Development Organisation.

“Plaasarbeiders is nie vrag nie. Hulle is mense wat veilige, gereguleerde en waardige vervoer na en van hul werkplekke verdien. Hierdie herhalende voorvalle is nie ongelukke nie – dit is die voorspelbare gevolg van nalatigheid, swak toepassing en uitbuiting van die wet.”

Die Rural and Farmworkers Development Organisation het in sy verklaring ‘n beroep gedoen op die departement van indiensneming en arbeid, die departement van vervoer, die Suid-Afrikaanse polisiediens, landbouliggame en arbeidsinspekteurs om hierdie voorval te ondersoek.

Paarl Post het uitgereik na die Wes-Kaapse polisiediens wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article