‘n Swaar vragmotor wat gister (Donderdag 3 Julie) op die besige Sir Lowryspas omgeslaan het, is nou ontruim.
Die ontruiming van die wrak het verkeer op die pas vandag (Vrydag 4 Julie) erg vertraag.
Volgens Mureena Allie, woordvoerder vir die Wes-Kaap se provinsiale mobiliteitsdepartement, het die bestuurder van die vragmotor wat ‘n vrag vrugte vervoer het, omstreeks 08:15 Donderdag beheer verloor in die haarnaald-draai van die pas. Die vragmotor het van Grabouw af gekom en in die rigting van Kaapstad beweeg.
As gevolg daarvan het die vragmotor oor die bane beweeg en deur die versperrings aan die teenoorgestelde kant van die N2 by die heuwel afgerol.
Gelukkig was daar geen ander voertuie by die ongeluk betrokke nie.
Bestuurder beseer
Die Wes-Kaap se verkeersdienste, Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste asook Gordonsbaai-polisie het spoedig op die toneel gereageer om die situasie onder beheer te bring.
Die vervoerhouer van die vragmotor is beskadig, maar daar is nog nie duidelikheid oor die toestand van die vrugte nie.
“Een persoon, die bestuurder, het geringe beserings opgedoen,” sê Allie.
‘n Woordvoerder vir die Gordonsbaai-polisie bevestig dat die bestuurder na ‘n plaaslike private hospitaal geneem is.
As gevolg van die ongeluk was die pad gister gesluit en verkeer is via die R44 Clarence-pad herlei.
Die voertuig se vrag is gisteraand teruggekry en die vragmotor is vanmiddag (4 Julie) ontruim.
‘n Ongeluksverslag is geopen, maar geen saak word tans deur die polisie ondersoek nie.