Ek kyk by my studeerkamer se ruit uit en sien hoe die ligte Augustus-winde die laaste tekens van die winter rondwaai; en vir ‘n oomblik, ‘n vreemde, dog diep gedagte: Hoe voel die meeste van ons so aan die einde van nog ‘n seisoen?

In ons land, in ons mense se gemoedere dalk ‘n sekere onrustigheid, vrae en soeke na betekenis… en miskien, vir ‘n oomblik, is ons ook deel van die laaste tekens van die winter, dalk is ek ook een van daardie klein blaartjies wat so meegevoer word deur wind en stof. So waai ons maar saam, sonder ‘n seker rigting, sonder ‘n doel. So gooi die lewe ons van kant tot kant.

‘n Vreemde fase in ons lewe, ‘n vreemde emosie. Daar waar ons partykeer op ons eie voel, verlate van ons naaste en ons eie onsekerhede wat toeneem. ‘n Plek van duisternis, sheol soos Ou Israel sou sê, hier is ek maar net. ‘n Gevoel wat nie uniek is vir ons tyd nie. As ons deur die ou geskrifte sou blaai, die wysheid literatuur van ou Israel, die Psalms. Sal ons die vreemde fase van onsekerhede en verlatenheid raak lees, daar waar ons broers en susters ook al op die plek was waar van ons dalk nou mag wees.

Almal het al iewers in ons aardse bestaan gevoel soos die psalm digter, verlore en oorweldig. Daar waar dit voel ons is in diepe waters, omring met duisternis, weg van ons naaste se liefde en vasgevang in ellende en twyfel. Elkeen gaan deur die fase, dalk is dit juis waar jy nou is.

Domonic Basson, NG Kerk St Helena
Domonic Basson, NG Kerk St Helena

Maar weet net dat jy nie alleen is nie. Juis daar waar jy nou in jou diepste nood is, waar jy oorweldig is, daar is die Here. Op ‘n keer, sowat 800 jaar na die digter van Psalm 69, het ‘n groepie van 12 hulle leermeester genader en gevra: ‘Rabbi, leer ons om te bid’. As ons blaai na Matteus 6 sal ons sien hoe lui die gebed wat ons liewe Heer ook aan die 12 geleer het. Daardie kern bede wat ons gereeld bid vir ons daaglikse voeding en krag- daardie gebed vir ons tyd van nood en angs.

‘n Gebed van troos, maar meer as dit, vertroue. Vertrou in ons liewe Vader vir daaglikse voeding, fisiek vir die liggaam en die siel. Die gedeelte waarop ek wil fokus is van ons Here Jesus Christus se gebed is: voeding, vergifnis en verlossing.

Ons bid in totale afhanklikheid en nederigheid dat die Here my daagliks sal voed, my liggaam en my siel. Ek bid dat die liewe Heer my sal help om my naaste en medemens te vergewe, sodat dié ook my van my oortredings kan vergewe. Laastens, bid ek dat die Here my sal help om uit die versoeking te bly en te verlos van die bose, die bose van ons wêreld daarbuite, die bose van my medemens en naaste, maar meer as dit, die bose in myself.

Daardie gedagtes wat my laat voel asof ek in diepe waters is, soos in Psalm 69, of daardie blaartjie wat maar net deur die wind heen en weer verwaai word. ‘n Gebed waar die Here ons kom leer om ‘n kopskuif te maak, weg van die slegte omstandighede en in my daaglikse bede te fokus op ‘n verhouding van vertroue. Die uiteinde is juis die laaste woord van die gebed – koninkryk. Dat ek my gedagtes en my hart in stille wyding, in my daaglikse bede uit die duisternis van Psalm 69 sal skuif, na die vertrouensverhouding van ons bede in Matteus 6. Dan lui die gebed dalk anders: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid, help my om aan U koninkryk te bou en dit reg te verteenwoordig in vertroue deur U daaglikse voeding, U daaglikse vergifnis en verlossing. Laat my leef vir U, want dit is hoe ek die waters oorwin en standvastig in die wind kan staan.

– Ds. Dominic Basson, NG Kerk St Helena

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article