Voormalige Mev. Wêreld Tereza Troskie-Herbst (57) en haar man, Bennie, het vanoggend ‘n tweeling ryker geword.

Die Mediclinic Bloemfontein het in ‘n nuusverklaring aangekondig dat Troskie-Herbst se tweeling-dogters Abbigail en Kiara vanoggend op 33 weke gebore is.

Die geboorte is danksy ‘n surrogaatma moontlik gemaak.

Valencia Swart, woordvoerder van Mediclinic Bloemfontein, sê danksy mediese kundiges word die twee met groot sorg in die hospitaal se Neonatale Intensiewesorgeenheid gemonitor.

Tereza het haar dank uitgespreek teenoor die pediater dr. Jaco Neser, die ginekoloog dr. Nic Barnard en die personeel van die hospitaal.

“Die kundigheid en deernis van almal maak hierdie ‘n heugelike dag vir ons,” sê Tereza volgens die verklaring.

Troskie-Herbst was getroud met die eertydse rolprentmagnaat wyle Boet Troskie van wie sy in 2001 geskei is. Boet is in 2022 oorlede. Sy is in 2014 met Bennie Herbst getroud. Dit is die derde keer dat hulle met die hulp van ‘n surrogaatma probeer om kinders te kry.

Die eerste keer was in 2016 toe hul seuntjie, Jayden-Ben ses dae na sy geboorte oorlede is. In 2023 het ‘n ander surrogaatma ‘n miskraam gehad en is hul drome om ouers te word verpletter.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article