Op die geselligheid Maandag was die borge en direksielede van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks van links Rynhardt Smidt (Universiteit van die Vrystaat − UV), Henri Wilken (Hoërskool Jim Fouché), Ruan Botha (Skilltracer), Jeannine van Zyl (Novus Media Gemeenskapsnuus), Gys Coetzee (Bethlehem Voortrekker Hoërskool en uitvoerende direkteur van die Wesgrow-reeks), Deon van Wyk (sporthoof van die Hoërskool Sentraal), Charles Liversage (hoof van die Hoërskool Sentraal), Lacea Loader (UV), Dirk Pretorius (Wesgrow), Spoed Johan Smit (SuperSport), Francois de Kock (Hoërskool Diamantveld) en Neil de Klerk (VKB). Foto: Conrad Bornman

Ná ‘n taai, hoogs mededingende Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks, wat in Augustus tot ‘n einde gekom het, is die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein as algehele wenner gekroon.

Gesonde, mededingende en opwindende skolesport is die hooffokus van die reeks, wat spog met die grootste massa-deelname in ‘n sportgebeurtenis van sy soort in die wêreld.

Sentraal hou ook die netbalbeker vir 2025 omhoog.

Op ‘n glansgeleentheid by die skool op Maandag 25 Augustus, is ook aangekondig dat die Hoërskool Jim Fouché aangewys is as die wenner in die seunshokkie-afdeling asook die algehele wenner in hokkie.

Die afgelope seisoen het in Februarie begin en van die begin af was dit duidelik dat skole goed voorberei was vir strawwe kompetisie.

Daar was natuurlik ‘n hele paar verrassings en sommige skole het gewys dat diepte in die reeks die septer sou swaai in elke afdeling.

Dit was duidelik dat daar hard gewerk is tydens die voorseisoen toe daar reeds met die eerste naweek van deelname gehaltespel gelewer is.

Danksy die breë blootstelling wat die reeks aan leerlinge bied en betrokkenheid van getroue borgskappe, was dit ook lekker om twee leerlinge wat hul talente in die reeks geslyp het, op die internasionale verhoog te kon sien deelneem.

Fano Linde van die Bethlehem Voortrekker Hoërskool en Jacobus Grobbelaar van die Hoërskool Fichardtpark kon as Wesgrow-alumni die o.20 rugby-wêreldbeker lig.

Gys Coetzee, skoolhoof van Voortrekker en voorsitter van die Wesgrow-reeks, sê dié twee se prestasie is ‘n bewys dat die sentrale streek van Suid-Afrika propvol talent is.

Die Hoërskool Diamantveld van Kimberley se o.19A rugbyspan het die reeks as onoorwonne afgesluit en die beker gelig op ‘n uitstekende seisoen. Diamantveld was ook die algehele wenner van die rugby-afdeling.

Net so het Jim Fouché die res van die skole streepsuiker gegee in die o.19A-seunshokkieafdeling terwyl Witteberg, van Bethlehem, die o.19A-meisiesafdeling gewen het.

Die Hoërskool Sentraal het die

kroon gespan op ‘n puik netbal-

seisoen deur die o.19A-netbalreeks te wen.

dummy text

Voortrekker het die afdeling vir meisieshokkie gewen.

Om die finale en algehele wenner te bepaal, word die prestasie van alle spanne, van o.14 tot en met o.19, in berekening gebring. Op die prysuitdelingsgeleentheid is die wenners vir 2025 in elke afdeling aangewys.

“Hoewel sommige spanne se seisoene met meer uitdagings gepaard gegaan het, was dit wel ‘n belewenis om die deelname tussen skole te sien en die kameraderie van spansport te aanskou,” sê Coetzee

Daar was Dinsdag 26 Augustus groot opwinding by die Hoërskool Sentraal wat as die alghele wenner van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks aangewys is. Die spankapteins van die skool se eerste spanne is van links Elnita Wessels (meisieshokkie), Miggie Liebenberg (seunshokkie), Charles Liversage (skoolhoof), Marli van der Merwe (netbal) en CJ Hertzog (rugby). FOTO: Lientjie Mentz

Sowat 429 leerlinge per skool op naweke deelgeneem. Tydens die toernooi is 28 interskool-naweke beslis − sewe per skool.

Altesaam het 96 hokkiespanne, 112 netbalspane en 72 rugbyspanne aan die reeks deelgeneem.

Twee skole van Bloemfontein spog met drie van die vier afdelingbekers. Hier is van links Tanya Kotze van die Hoërskool Sentraal wat die netbalbeker gewen het en van die Hoërskool Jim Fouché is Stefanie Frey: hokkiehoof en afrigters van die eerste hokkiespan. FOTO: Lientjie Mentz

“Dankie aan elke speler, afrigter en ouer wat die reeks ondersteun en jul skole met trots verteenwoordig het. Sport as aktiwiteit dra ‘n belangrike aspek by tot die volle ontwikkeling van ‘n kind. Hierdie unieke reeks is besig om meer en meer belangstelling te lok en met die betrokkenheid van VKB as mede-borg bestaan daar ook die moontlikheid dat daar ‘n plattelandse afdeling kan uitkring in die toekoms. Vele skole het reeds hieroor navraag gerig,” sê Coetzee.

“Ons sien met opgewondenheid uit na die toekoms en is dankbaar vir almal wat hierdie gesogte reeks ‘n werklikheid maak vir elke leerling.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article