Jurie Geldenhuys nuwe skoolhoof by die Hoërskool Grey-kollege.
Jurie Geldenhuys nuwe skoolhoof by Grey-kollege (sekondêr).

Nuwe skoolhoof vir die Hoërskool Grey-kollege aangekondig


BLOEMFONTEIN – Die skoolhoof van die Laerskool Grey-kollege Jurie Geldenhuys neem van 1 Januarie die leisels oor van die Hoërskool Grey-kollege.

Die skoolbeheerliggaam van die Hoërskool Grey-kollege het Vrydag aangekondig dat Geldenhuys aangestel is in die plek van Braam van Wyk wat einde vanjaar as skoolhoof aftree.

Geldenhuys sal die 15de skoolhoof van Grey wees sedert 1855. Hy is sedert 2015 die hoof by die laerskool.

LEES OOK: Grey-skoolhoof tree einde van die jaar af

Jan Harm Greyling, voorsitter van Grey-kollege se skoolbeheerliggaam, sê in ‘n verklaring Geldenhuys bring bring uitgebreide kennis van die Grey se skoolgemeenskap en die onderwysomgewing na sy nuwe rol. “Volhoubare leierskap en kontinuïteit vorm die skakel tussen Grey se meer as 170 jaar van ryke kultuur en onderwysgeskiedenis en die skool se toekoms.

Met die aankondiging van Van Wyk se aftrede vroeër vanjaar, het hy gesê dat dit vir hom ‘n voorreg was om sy onderwysloopbaan te kon afsluit by Grey.

“Om aan die stuur te staan van só ‘n geskiedkundige onderwysinstelling, was ‘n groot uitdaging, maar ook ‘n wonderlike voorreg. As oud-Grey en Grey-ouer en ook as skoolhoof sal die Grey-gees altyd in my hart voortleef.

Greyling sê die skoolbeheerliggaam is tevrede dat die aanstellingsproses deursigtig was, met die skool se etos die rigtingwyser in alle besluite. Die beheerliggaam het ook groot respek vir die wyse waarop die Vrystaatse Departement van Onderwys die proses hanteer het.

Geldenhuys se loopbaan in die onderwys het in 1992 by die Hoërskool Nylstroom begin. In sy meer as drie dekades in die onderwys was hy landwyd by verskeie hoër- en laerskole betrokke, waaronder meer as 20 jaar as skoolhoof. Hy het ook groot sukses behaal op die gebied van skolesport en kultuur, wat sprekend is van Grey se benadering om jong seuns toe te rus om ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing te lewer.

Geldenhuys sê sy aanstelling is die voltooiing van ’n kringloop. “Dit is vir my ’n voorreg om nou ons Grey-manne voor te berei om die volwasse wêreld te betree nadat ek so lank deel kon wees van hul eerste skooldae. Hierdie seisoene van die seuns se skoolloopbane word ook oor geslagte heen weerspieël in die seisoene van die groter bestaan van die skool. In my eie seisoen by Grey, eers by die laerskool en nou by die hoërskool, hoop ek om dit wat belangrik is uit ons verlede saam te voeg met dit wat noodsaaklik is vir ons toekoms.”

Die proses om ‘n nuwe skoolhoof vir die laerskool aan te stel, begin eersdaags.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article