Karen du Plessis
Karen du Plessis
BloemNews Express

Kinders gee vir juffrou Karen van Grey krag terwyl sy wag vir nuwe longe


Sy staan in die deur van haar klaskamer by Grey-kollege (primêr).

“Jammer ek kon jou nie kom haal nie, my pypie is ‘n bietjie kort,” sê Karen du Plessis (59) met ‘n skouer-ophaal terwyl sy my by die klaskamer innooi.

Die lang wit suurstofpyp sleep agter juffrou Karen aan terwyl sy agter haar lessenaar gaan sit. Dié onderwyseres kort dringend twee nuwe longe.

Karen is reeds die afgelope paar jaar afhanklik van ‘n masjien wat vir haar help asemhaal.

Sy is gebore met ‘n toestand genaamd primêre siliêre diskenese en haar longfunksie het teen verlede jaar so versleg, dat sy begin van die jaar op die oorgaanontvangerslys geplaas is.

Die siekte behels dat sy nie silia (fyn haartjies) in haar liggaam het nie. Dit het daartoe gelei dat sy aan gehoorverlies ly en dat sy net met groot moeite slym en onsuiwerhede uit haar longe kan kry nie. Oor die jare het dit haar longe so versleg dat sy deesdae 24 uur per dag suurstof deur ‘n masjien ontvang.

“Grey-kollege is baie goed vir my,” vertel die juffrou wat die afgelope 14 jaar by Grey klas gee.

“Teen einde verlede jaar was dit vir my swaar om klas te gee en ‘n pos is geskep.” Sy gee nou ondersteuning vir leerders van gr 1 tot 3 en help die ouer kinders met akkomodasies en akademiese bystand waar nodig.

“Die kinders beur my op,” vertel Karen. “Vanoggend het ek baie swaar opgestaan. Toe, in die tweede periode kom sit hierdie kind by my en ek vra vir hom of dit vir hom ook moeilik was om skool toe te kom. En hy lag en sê dit is vir hom lekker by die skool. Hy het so tandapasta-streep op sy baadjie gehad in sy haas om by die skool te kom,” vertel sy. “Ek het sommer lekker gelag en die dag was soveel beter.”

Wilco de Villiers (gr 12), Karen du Plessis en Danné Coetzee by die sokkie wat die leerders vir haar gehou het.
Wilco de Villiers (gr 12), Karen du Plessis en Danné Coetzee by die sokkie wat die leerders vir haar gehou het. FOTO: Verskaf

Karen moes weens haar uitdagings met asemhaal haar aktiwiteite baie afskaal. Sy was vroeër betrokke by die Voortrekkerkommando en was selfs die afgelope twee jaar ‘n kampleier van Kamp Klitsgras op Doornkloof. Dit is juis op Doornkloof verlede jaar waarop sy ineengestort het en die erns van haar situasie duidelik geword het.

Sy het nie ‘n mediese fonds nie, en kry behandeling by die Universitas- Akademiese Hospitaal. “Ek het een suurstofmasjien by die staat gekry, maar het nog masjiene nodig by die huis. Sy huur van dié masjiene wat vir haar agt liter suurstof per minuut vervaardig. Sy moet ook elke drie maande Kaapstad toe ry vir toetse.

Daar word nou gewag vir ‘n geskikte skenker waarvan die weefsel, geslag en bloedgroep met die van Karen ooreenstem. Sodra daar ‘n skenker is, sal sy blitsvinnig in die Kaap moet kom en lank daar bly.

Om haar te ondersteun met haar mediese uitgawes, het ‘n matriekleerder van Grey Wilco de Villiers met ‘n idee vorendag gekom om ‘n sokkie te hou om geld in te samel.

Wilco het saam met die Voortrekkers se Gebiedsjeugraad op 21 Februarie ‘n sokkie in Grey se laerskoolsaal aangebied om geld in te samel vir Karen. Hulle het met dié sokkie sokkie R15 000 ingesamel wat aan haar geskenk is.

“Die sokkie wat Wilco en die kinders vir my gereel het, is meer kosbaar as wat ek ooit in woorde behoorlik kan sê.”

Daar is ook ‘n BackaBuddy-blad waarop lede van die gemeenskap Karen met haar mediese uitgawes kan ondersteun.

Karen sê sy is so dankbaar vir die skool. Vir almal wat vir haar bly bid en haar elke dag ondersteun. Wat omgee en help

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article