Twee lugambulanse het drie pasiënte blitsig na Mediclinic verover.
Twee lugambulanse het drie pasiënte blitsig na Mediclinic verover.

BLOEMFONTEIN – Drie mans wat Dinsdag ernstig beseer is toe ‘n helikopter buite Bethulie in die Vrystaat neergestort het, is met twee lugambulanse na die Mediclinic Bloemfontein vervoer.

Lucas Bezuidenhout, takbestuurder van ER24 in Bloemfontein, sê hulle is Dinsdag om 08:30 in kennis gestel van die ongeluk wat op ‘n plaas plaasgevind het.

Die ongelukstoneel waarin drie mans Dinsdag beseer het toe die helikopter waarin hulle gevlieg het, buite Bethulie neergestort het. FOTO: Verskaf
Die ongelukstoneel waarin drie mans Dinsdag beseer is toe die helikopter waarin hulle gevlieg het, buite Bethulie neergestort het. FOTO: Verskaf

Hy sê ER24 het wel ‘n ambulans uitgestuur, maar intussen kon Rocket HEMS in Kimberley reageer en het twee ambulanse na die toneel gestuur. Die twee helikopters het ‘n uur later naby die koppie waar die ongeluk gebeur het, geland en twee van die pasiënte is in die helikopters gelaai en na Bloemfontein vervoer.

In Bloemfontein het die eerste helikopter om 11:38 geland en kort daarna het die tweede op die sportveld van die St Andrew-skool geland. Ambulanse van ER24 was byderhand om die twee pasiënte na Mediclinic oorkant die straat te neem.

'n Pasiënt word uit een van die twee Rocket HEMS-ambulanse op die St Andrew's sportveld na die ER24-ambulans vervoer. Die Mediclinic Bloemfontein is in die agtergrond sigbaar. FOTO: Verskaf
‘n Pasiënt word uit een van die twee Rocket HEMS-ambulanse op die St Andrew’s sportveld na die ER24-ambulans vervoer. Die Mediclinic Bloemfontein is in die agtergrond sigbaar. FOTO: Verskaf

Een lugambulans het daarna vertrek om die derde pasiënt op die toneel in Bethulie te gaan haal en na Bloemfontein te bring.

Dr. Ilse Fourie, hoof van Mediclinic Bloemfontein se noodgevalle-afdeling, sê dit is die eerste keer dat twee helikopters op een slag hier land met pasiënte. “Die samewerking tussen ons noodsentrum, ER24 en Rocket HEMS was uitstaande. Die personeel van Rocket se deurlopende terugvoer uit die lug het beteken dat ons elke stap vooruit kon beplan – iets wat krities is in tydsensitiewe noodgevalle.”

Sy is bygestaan deur drs. Esther Gunter en Karien le Roux en die traumachirurg aan diens was dr. Mosa Khaeane.

Twee lugambulanse van Rocket HEMS land kort ná mekaar op die St Andrew-skool se sportveld oorkant die Mediclinic Bloemfontein. VIDEO: Verskaf

Fourie sê in sulke situasies dra geen enkele span alleen die uitkoms nie. “Dit is ‘n gesamentlike poging met deurlopende kommunikasie van die toneel tot by die aankoms by die noodsentrum.

“Ek het in ‘n stadium in die traumakamer opgekyk en gesien hoe almal in perfekte harmonie saamwerk. Elkeen gefokus op sy of haar rol. Dit is daardie tipe spanwerk wat werklik ‘n verskil maak in kritieke oomblikke,” sê sy.

Valencia Swarts, woordvoerder van Mediclinic Bloemfontein, sê die drie pasiënte word in die hospitaal se intensiewesorgeenheid behandel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article