Terwyl die Matjhabeng- plaaslike munisipaliteit met ernstige dienslewerings- en infrastruktuuruitdagings worstel, word munisipale geld steeds aangewend vir onsinnige “beleggingsinisiatiewe”.
Só sê VF Plus-raadslid Manie Pretorius.
“Hierdie sogenaamde beleggingsinisiatiewe het tot dusver geen werklike ekonomiese opbrengs vir die gemeenskap van Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia en Welkom getoon nie.”
Hy sê verskeie beleggingsberade en beleggingsgeleenthede is sedert 2022 in Matjhabeng aangebied, maar daar is geen bewys dat dit werklike beleggings of tasbare voordele vir inwoners gebring het nie.
“Een van die projekte, naamlik die opgradering van Welkom se lughawe, het tot op hede geen sigbare ontwikkeling getoon nie.

“Ons het reeds in Oktober 2025 ‘n brief aan die burgemeester, Thanduxolo Khalipha, geskryf en ‘n verslag versoek met die kostes en werklike beleggings wat uit hierdie inisiatiewe voortgevloei het.”
Die VF Plus eis nou weer dat volledige verslag gedoen moet word oor alle beleggingsberade wat sedert 2022 aangebied is, insluitend die ekonomiese indaba by die Goldfields Casino (2022), die veiligheids- en sekuriteitsberaad by die Ernest Oppenheimer-skouburg (2022), beleggingsberaad by die Kingdom Academy (2022), beleggingsberaad Kingdom Academy (2023), en beleggingsberaad by die Ferdi Meyer-saal (2025).
“Khalipha moet ook ‘n volledige uiteensetting verskaf met alle uitgawes, raadgoedkeurings en werklike beleggings wat uit hierdie geleenthede gerealiseer het.
“Hierdie uitgawes behoort duidelik in die munisipaliteit se finansiële verslae weerspieël te word. Volgens Matjhabeng se standaardreëls en -ordes moes daar tydens die onlangse raadsvergadering terugvoer oor hierdie vraag gegee word.
“Dit het egter nie gebeur nie en die versoekte terugvoer bly uitstaande.
“Dit laat die ernstige vraag ontstaan of hierdie ‘n ongemaklike vraag is wat doelbewus ontduik word, en of daar gepoog word om die vrae stilweg te laat verdwyn. Inwoners het die reg om te weet hoe openbare fondse aangewend word,” sê Pretorius.





You must be logged in to post a comment.