Verligting is in sig vir die inwoners vanvMatjhabeng namate die groot opknapping van die Thabong- en Kutlwanong-afvalwaterbehandelingsaanlegte en pompstasies voltooiing nader.
Die Matjhabeng-munisipaliteit sukkel al geruime tyd met riooloorstromings, wat die Vrystaatse Departement van Water en Sanitasie (DWS) genoop het om in te gryp – ná ‘n ministeriële opdrag om die munisipaliteit by te staan.
Die (DWS) het saam met die munisipaliteit gewerk om die Thabong- en Kutlwanong-afvalwaterbehandelingsaanlegte en pompstasies op te knap, ten einde die voortdurende probleem van riooloorstromings aan te spreek.
Die omvang van werk het pompstasie-opknapping, die hantering van verstoppings in rioolafvoerstelsels en die opknapping van die afvalwaterbehandelingsaanlegte ingesluit.

Nege aanlegte en 42 niewerkende rioolpompstasies is opgeknap, terwyl verstoppings in rioolnetwerkpypleidings, wat bestaan uit ongeveer 400km uitlooplyne en kamers met ‘n algehele afstand van 1 543km, opgelos is.
Die werk aan altwee aanlegte, vir Thabong en Kutlwanong, nader voltooiing, met albei projekte wat vordering bo 98% bereik het.
Altesaam 19 pompstasies, insluitende dié van Bronville-Noord, Bronville-Suid, Rheederspark en Akasia, is voltooi en aan die Matjhabeng-munisipaliteit oorhandig om te bedryf.
Hoewel die projekte byna voltooi is,bly daar egter ‘n beduidende probleem met elektrisiteitsaansluiting vir die opgeknapte infrastruktuur.
Die probleme word veroorsaak deur vandalisme van elektrisiteitsinfrastruktuur in Matjhabeng, asook vertragings in betaling deur die munisipaliteit aan Eskom.
Die munisipaliteit is in konsultasie met Eskom en sal na verwating ‘n ooreenkoms bereik wat sal meebring dat die Matjhabeng-gemeenskap baat vind by die opgeknapte infrastruktuur.
Die twee aanlegte is toegerus met kragopwekkers; die vertraging in elektriese aansluiting kan egter nadelige vertragings veroorsaak om die aanlegte ten volle operasioneel te kry.
Om Thabong se aanleg op kragopwekkers alleen te laat werk, sal na raming die munisipaliteit R2 miljoen per maand kos.
Die munisipaliteit het die komitee verseker dat bevoegde aanlegoperateurs aangestel sal word om die fasiliteite te bedryf en sekuriteit is verhoog om vandalisme te voorkom, veral tydens die kontrakteurs se reses.
Met die kontrakteurs se reses geskeduleer vir 15 Desember, het alle belanghebbendes onvermoeid gewerk om te verseker dat projekte praktiese voltooiing bereik.
Hierdie groot infrastruktuur-belegging verteenwoordig ‘n beslissende stap om Matjhabeng se langstaande rioolkrisis op te los, hoewel die elektrisiteitsaansluitings-uitdagings dreig om die volle voordele wat inwoners kan bereik te vertraag.





You must be logged in to post a comment.