BLOEMFONTEIN – Die pragtige klanke van ‘n altviool het onlangs in Hospice Bloemfontein opgeklink.
Dit was die geestelike liedjies wat musikant Elsabé de Jager vir haar sterwende man, Linde (42), op haar altviool gespeel het.
Linde, wat ‘n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) was en gewerk het aan sy doktorsgraad in plantekologie, is op Donderdag 12 Februarie in die hospies oorlede.
Linde was bekend vir sy kennis en liefde vir die veld en het mense gelei op toere om hulle meer te leer van plante in byvoorbeeld die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin. Hy was ook ‘n ywerige byeboer.
Vir die egpaar, wat twee jaar gelede getroud is, was hul tyd saam kosbaar. Linde is in Mei 2025 met maagkanker gediagnoseer.
“‘n Dag voor sy dood het Linde vir my gesê dat hy glad nie bang is vir die dood nie. Ons het die laaste tyd regtig die Here gesoek en geestelik gegroei. Ek kan regtig sê dat ons vrede kon maak met wat gebeur.”

Elsabé sê sy het in die hospies gereeld vir hom op haar altviool gespeel.
“Ek het nie net vir Linde gespeel nie, maar ook vir van die ander pasiënte wat daar was. Die Here plaas ‘n mens soms op ‘n plek sodat ander iets besonders kan beleef. Iets wat vir jou vanselfsprekend is. Dit was vir my in ‘n sekere sin ‘n geseënde tyd waarin ander pasiënte kon baat vind in die geestelike musiek wat ek vir hulle speel.”
Elsabé sê haar pad met Linde was baie spesiaal.
“Ek was nog altyd baie aktief, maar voor ek vir Linde ontmoet het, het ek my hele lewe in my werk ingegooi. Hy het my geleer dat ‘n mens kan werk én goed kan beleef. Hy het my geleer om anders na dinge te kyk. Ons het soveel in gemeen gehad.”
Sy vertel Linde het in die kerk gesing waar sy altviool gespeel het.
“Hy het nog altyd baie vir ander mense omgegee. Hy het gereeld siek mense in hospitale besoek, Bybel gelees en vir hulle gesing. Hy het veral graag in die pediatriese afdeling gesing.”

Elsabé het groot lof vir die wyse waarop die personeel by die hospies hulle gehelp het. Linde is 31 Januarie in die hospies opgeneem.
“Hulle sien so mooi na die mense om. Hoewel ek en familielede voortgegaan het om vir Linde in die hospies te versorg, was dit hulle wat simptomatiese verligting vir hom kon gee. Dit het gemaak dat ons beter gehaltetyd saam met hom kon deurbring.”
Linde laat ook sy ouers Catherine en Johan, ‘n broer Heinie en twee susters Nicolette en Chantal agter.
Die troosdiens is Saterdag 21 Februarie om 11:00 in die Evangelies-Gereformeerde Kerk.






You must be logged in to post a comment.