Dit was veronderstel om die perfekte sprokiesdag te wees. In plaas daarvan het talle verliefde paartjies hulself in ‘n web van verraad en vernedering bevind toe Lana de Jager se “Droom Troue” kompetisie hul groot dag in ‘n nagmerrie omskep het.
De Jager, ‘n sakevrou van Alberton wat as trustee van die Shabach Trust optree, het ‘n sogenaamde realiteits-televisieprogram geloods wat belowe het om aan gelukkige paartjies “droomtroues” ter waarde van R500 000 te gee. Wat te goed was om waar te wees, was inderdaad presies dit.
Die skema was vindingryk in sy eenvoud. De Jager het haar kompetisie op verskeie platforms bevorder – van bruidskoerante tot sosiale media. Paartjies moes Bruidsgids op Instagram volg, Droom Troue op Facebook like, en dan “Droom Troue” saam met hul besonderhede na ‘n SMS-nommer stuur. Vir elke SMS is hulle R5 gehef.
Maar toe kom die nare waarheid: daar was glad nie ‘n regte kompetisie nie. Elke paar wat deelgeneem het, is ingelig dat hulle “gewen” het. Dus was die opgewondenheid was van korte duur.
Om hul “wenprys” te eis, moes die sogenaamde wenners ‘n memorandum van verstandhouding onderteken en ‘n nie-terugbetaalbare “verbintenisfooi” van tussen R25 000 en R60 000 betaal. Vir paartjies wat alreeds hul begrotings gerek het vir hul groot dag, was dit ‘n groot finansiële las.
Diegene wat wel betaal het, het ‘n skokkende realiteit ontdek. Die “spogtroues ter waarde van R500 000” was alles behalwe spoggerig. Bruidspare het vertel van laaste-minuut-chaos, rokke wat met koppiespelde aanmekaar gehou moes word, en organiseerders wat hulle tot op die nippertjie laat sweet het oor die reëlings.
Tussen Augustus 2022 en April 2023 het die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) talle klagtes van ontevrede “wenners” ontvang en die gevolglike ondersoek het De Jager se ware aard blootgelê.
Die Verbruikerstribunaal het vandeesweek bevind dat De Jager die Wet op Verbruikersbeskerming flagrant oortree het deur verbruikers in te lig dat hulle ‘n kompetisie gewen het terwyl daar geen kompetisie was nie. Haar gedrag is as “gewetenloos, misleidend en bedrieglik” bestempel.
De Jager se bedrieglike praktyke het haar duur te staan gekom. Die Tribunaal het ‘n administratiewe boete van R250 000 teen haar opgelê en beveel dat sy R265 550 aan sewe klaers terugbetaal.
Die NVK het die uitspraak verwelkom, wat ‘n duidelike boodskap stuur dat verbruikers beskerm sal word teen sulke bedrieglike praktyke.
Novus Media het De Jager om kommentaar genader oor die uitspraak van die NVK, maar sy het nie op oproepe gereageer nie.